Teazers-baas het glo twee testamente gehad, hoor hof

Lolly Jackson

Shaun Russouw, die eienaar van die Teazers-stripklub in Durban, beweer dat Lolly Jackson, voormalige eienaar van Teazers, twee testamente gehad het.

Jackson se weduwee, Demi, het die grootste gedeelte van sy boedel geërf en het Vrydag ‘n hofsaak gewen waarin Russouw tot die einde van die maand kans het om die perseel te ontruim, berig The Star. Russouw het aan die koerant gesê dat Jackson ‘n tweede testament in sy kantoor gehad het wat glo sou aandui dat hy die onderneming in Durban aan hom bemaak het. Hy sê sy persoonlike assistent het as getuie dié testament onderteken.

“Hy het vir my gesê dat ek die gebou in Durban, die onderneming in Durban en sy groen Lamborghini sal ontvang,” beweer Russouw. “Lolly het gesê indien enigiets met my moet gebeur sal hy vir my vrou en kinders sorg. Hy het gesê indien enigiets met hom moet gebeur, sal ek met die besigheid kan voortgaan en sal ek die gebou en een van sy motors kry,” het Russouw bygevoeg.

Maurice Pillemer, waarnemende regter in die Durbanse hooggeregshof, het in sy uitspraak bevind dat enige ooreenkoms tussen die twee mans van ‘n persoonlik aard was en het Russouw kritiseer dat hy nie “die volle feite” van hul vennootskap uiteengesit het nie.

Jackson, die eienaar van die Teazers-franchise, is op 3 Mei 2010 by ‘n huis in Edleen naby OR Tambo Internasionale Lughawe doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.