Teddiebeer-bom opgespoor

Argieffoto

Argieffoto

‘n Koerantafleweraar van Amerika het ‘n verlate teddiebeer in ‘n pad opgetel en eers later uitgevind daar was ‘n bom binne-in die speelding.

Anthony Cannon (42) het Vrydag gesê hy het die teddiebeer Donderdag op sy roete naby Lattimore, ‘n klein dorpie in North Carolina, opgemerk. Hy het later omgedraai om die teddie te gaan optel. “Ek het gedink dit is ongewoon dat die teddie só in die middel van die pad sit,” het Cannon gesê. “Dit was baie donker. Toe ek die beertjie optel, het een of ander tipe houer uitgeval.”

Cannon het die beertjie agtergelaat en die silindriese houer in sy motor geplaas. Hy is na ‘n neef se huis waar hy die houer in die lig kon bestudeer. Die houer was vol vloeistof, met kleefband toegeplak en daar het ‘n paar drade uitgesteek. Hy het vermoed dit kan dalk gevaarlik wees, en het die houer op die stoep neergesit en die polisie ontbied.

‘n Bomeenheid van Gastonia het bevestig dit is ‘n geïmproviseerde ploftoestel en almal uit die huis ontruim.

“Cannon was baie gelukkig,” het Alan Norman, sheriff van Cleveland, gesê. Alhoewel hy nie verdere besonderhede oor die toestel kon gee nie, het hy gesê dit sou ernstige skade aanrig indien dit ontplof het.

Die bom is veilig gemaak en na ‘n laboratorium gestuur waar ondersoekbeamptes die toestel sal bestudeer om moontlik te kan identifiseer wie die toestel aanmekaar gesit het.

‘n Bom is ses maande gelede en twee bomme is in 2009 in dieselfde gebied opgespoor. Nie een van dié sake is al opgelos nie.

Cannon sê hy en ander inwoners is besorg dat die persoon, wat die bomme bou, eendag iemand gaan beseer. Alhoewel hy ernstig beseer kon word of selfs kon sterf, is hy dankbaar dat hy die teddiebeer opgetel het. “As ‘n kind daar verby geloop het, sou hy definitief die teddie opgetel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Justi ·

Sjoe, laat dit n les wees vir enigeen. Moenie net iets optel wat rondle nie. Net baie dankbaar n kind het nie die speelding opgetel nie.
Wonder watse “siek” mens tot so iets instaat is?
Wou seker kyk wat sou gebeur as die ding afgaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.