Tegnologie bekendgestel in stryd teen renosterstropery

Radartegnologie. Die foto is deur @christiefynn op Twitter gelaai.

Tegnologie is moontlik die antwoord om die kwessie van renosterstropery in Suid-Afrika op te los.

Business Day berig dat Diceros, ʼn vennootskap tussen Wildlife ACT en Stone Holdings, Dinsdag sy tegnologiese oplossing vir renosterstropery bekendgestel het. Die stigterslid van Wildlife ACT, dr. Simon Morgan, sê tot nou toe het Suid-Afrika alles behalwe tegnologie probeer om renosterstropery hok te slaan. Renosterstropery het sedert 2007 skerp toegeneem en meer as 50 renosters is reeds vanjaar vir hulle horings doodgemaak. Diceros het Dinsdag ʼn demonstrasie gehou waartydens verskeie tegnologiese oplossings bekendgestel is. Een van die produkte is radartegnologie, wat deur die Amerikaanse weermag gebruik word. Die toerusting is egter nie goedkoop nie en die “Rolls Royce”-opsie sal jou sowat R5 – R10 miljoen uit die sak jaag. Morgan sê die prys van die tegnologie word deur verskeie faktore bepaal, waaronder die grootte van die reservaat, die terrein en of daar ʼn gemeenskaplike grens is met ʼn reservaat wat ook van die tegnologie gebruik maak. Die radartegnologie kan mense, voertuie en “selfs ʼn strik” bespeur. Die tegnologie is glo so gevorderd dat dit meer as 12km ver tussen ʼn man en ʼn vrou kan onderskei, weens die manier waarop hulle loop. SANParke wou nie kommentaar lewer oor die tegnologie nie, aangesien dit glo hulle veiligheid in gedrang kan bring.

Lees meer hier.

Die grafika wys hoe die radar ingespan kan word om groot gebiede te “patrolleer”. Die foto is deur @dancalders op Twitter gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lome4 ·

Wel..’agteros kom ook in die kraal’ lui die spreekwoord. Mens sou dink die Sanparke sou hierdie toerusting ‘toe-oè’ aanskaf..dis immers n belegging in ons nalatingskap. Kon daar maar n ‘paar miljoen’ van Oom Pravin se Triljoen begroting vandag ‘afgeknyp’ word…maar nou-ja. As n ‘greenie’ moet ek seker maar…dream on ;)

Paul ·

Geld groei nie op renosters om sommer sulke toerusting mee aan te koop nie, jong! O nee, wag…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.