Tekort van R744 miljoen by Fidentia

J Arthur Brown buite die Wes-Kaapse hooggeregshof op 15 Mei 2013 Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

ʼn Nuwe kurator se verslag bied besonderhede van miljoene rande van beleggers se geld wat glo deur Fidentia, ʼn finansiële bestuursmaatskappy, spandeer is, het die Cape Times Dinsdag berig.

Luidens die verslag was daar betalings van onder andere R8.2 miljoen vir ʼn aandeel in en borgskap vir Boland-rugby, R1.9 miljoen vir die aankoop en omskepping van twee resiesmotors en R24.5 miljoen vir ʼn gebou waaruit J Arthur Brown, die voormalige hoof van Fidentia, se vrou ʼn leefstylsentrum bedryf het.

Die verslag is deur George Papadakis voorberei en by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien, het die koerant berig. Papadakis het glo ʼn tekort van R744 miljoen in kapitaal, wat deur verskeie groot entiteite belê is, ontdek.

Brown het aan die koerant gesê hy het nog altyd ontken dat hy selfs een rand van beleggers se geld onwettig gebruik het en dat die bevindings van die hooggeregshof dieselfde gevolgtrekking gemaak het.

Hy is in April op twee aanklagte van bedrog skuldig bevind en op sewe aanklagte vrygespreek. Hy is ʼn maand later met R150 000 beboet en tot drie jaar tronkstraf gevonnis, wat vir vier jaar opgeskort is. Hy het die boete betaal.

Die staat het die hoogste hof van appèl genader om Brown se “verbasend en onvanpaste ligte vonnis” te heroorweeg.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.