Suid-Afrikaners behoort Vrydag te hoor of Suid-Afrika die bod gewen het om die Square Kilometre Array (SKA)-radioteleskoop te huisves. Die regering hou later vandag ʼn perskonferensie oor dié aangeleentheid.
Naledi Pandor, die minister van wetenskap en tegnologie, het gesê sy is vol vertroue dat Suid-Afrika aangewys sal word as die gasheer vir die wêreld se grootste radioteleskoop. Die aankondiging oor wie van Suid-Afrika of Australië die teleskoop sal huisves, is al verskeie kere uitgestel.
Die vyf lande wat die finale besluit neem is Kanada, Sjina, Italië, Nederland en Brittanje. Suid-Afrika beoog om in vennootskap met onder meer Botswana, Ghana, Kenia, Madagaskar en Namibië die drie-duisend antennas te huisves waaruit die teleskoop bestaan. As Suid-Afrika die bod wen sal dit ʼn groot hupstoot vir die land se ekonomie wees.