“Telkom-werknemers trek aan die kortste ent”

telkom_01Solidariteit het die telekommunikasiereus Telkom versoek om weer met die vakbond oor salarisse te onderhandel nadat ʼn dispuut vroeër verklaar is. Dit volg na berigte dat Telkom se topbestuur buitensporige verhogings gekry het terwyl talle werknemers, volgens Telkom se finale loonaanbod, basies geen verhoging gaan kry nie. Volgens Solidariteit het dit tot ʼn vertrouensbreuk tussen die topbestuur en gewone werknemers gelei.

Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê Telkom is baie uitgesproke oor sy benarde finansiële posisie, maar buitensporige verhogings word steeds aan die maatskappy se topbestuur toegeken. “Telkom het aanvanklik ʼn 1,5%-verhoging vir werknemers aangebied. Die aanbod is egter later gewysig en die finale aanbod is aan ʼn differensiasiemodel gekoppel. Die model behels ʼn driejaarooreenkoms wat, volgens die maatskappy, daarop gemik is om historiese salarisongelykhede reg te stel. Ingevolge die nuwe ooreenkoms sal sommige werknemers ʼn verhoging van meer as ʼn 6% kry en ander werknemers byna geen verhoging kry nie, wat op ʼn loonbevriesing neerkom. Die ooreenkoms sal oor die volgende drie jaar tot gevolg hê dat sekere werknemers in reële terme ʼn loonverlaging kry, aangesien hulle vir die drie jaar op dieselfde vlak gaan bly.”

Croucamp sê Solidariteit het nie die aanbod aanvaar nie en ʼn dispuut verklaar terwyl die ander twee vakbonde ʼn ooreenkoms met Telkom geteken het. “Die ooreenkoms is ondanks Solidariteit se dispuut in werking gestel. Telkom is skriftelik versoek om onderhandelinge met die vakbond voort te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willy ·

Daar is multimiljoeners en mense wat hulle sente moet omdraai in een maatskappy.
Regverdig dit dan nie die stakings nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.