Terre’Blanche se vrou hoor op radio hy is dood

Eugene Terre'Blanche. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Die vermoorde AWB-leier Eugene Terre’Blanche se vrou het oor die radio gehoor dat haar man dood is.

Martie Terre’Blanche het Maandag in die rondgaande hof op Ventersdorp getuig dat haar suster haar gebel en gesê het haar man se perd hardloop op en af teen die draad op die dag van sy dood. Haar suster woon langs die plaas buite Ventersdorp waar Terre’Blanche op 3 April 2010 vermoor is. Martie sê sy het haar man talle kere probeer bel voor ʼn plaaslike radiostasie, Radio Overvaal, haar gebel en gevra het of haar man dood is. “Ek het dit nie geglo nie en gesê ek sal uitvind,” het sy aan die hof gesê. Die vermeende moordenaars, Chris Mahlangu en ʼn minderjarige, het glo die polisie in Ventersdorp in kennis gestel dat Terre’Blanche dood is.

Martie het getuig dat sy nie bewus was van enige geskil tussen Terre’Blanche en sy werkers nie. “My man het altyd gesê Mahlangu het goed gewerk.” Sy sê Mahlangu het die oggend van die moord aan haar kombuisvenster geklop en vir ʼn lening gevra. Martie sê sy het aan Mahlangu gesê dat sy eers haar man sal moet vra aangesien hulle eers hulle salarisse na die Paasnaweek sou ontvang. Sy sê Mahlangu was dronk toe hy by haar huis opgedaag het. Mahlangu het glo aan haar gesê dat Terre’Blanche in Pretoria is hoewel haar man die vorige aand vir haar gesê het dat hy plaas toe gaan. Martie sê toe sy haar man gebel het, het hy vir haar gesê om nie vir Mahlangu geld te gee nie en dat hy op pad was na hulle huis in die dorp. Op sy tuiskoms het hy en Mahlangu glo na ʼn drankwinkel gegaan waar hy drank van sowat R200 gekoop het. Martie het aan die hof gesê dat toe haar man weer tuisgekom het, was hy haastig om weer op die plaas te kom en het hy aan haar gesê hy sal later die aand weer tuis wees. Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.