Thandi Maqubela se vonnisoplegging uitgestel

Thandi Maqubela. Foto: SAPA

Thandi Maqubela. Foto: SAPA

Thandi Maqubela se vonnisoplegging vir die moord op haar man, waarnemende regter Patrick Maqubela, is Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof uitgestel.

Regter John Murphy het gesê hy moet “ongelukkig” die vonnisoplegging uitstel tot 4 Augustus, nadat Maqubela vroeër vandeesweek ʼn nuwe regspan aangestel het.

Murphy het Maqubela se nuwe regspan gevra om hom binne die volgende twee weke in kennis te stel of dit moontlik sal wees om die vonnisoplegging vroeër te begin. Dit kan moontlik op 29 Mei wees, afhangende van die regspan se skedule.

ʼn Privaat prokureur, Christiaan Bosman, het vroeër die week bevestig sy firma gaan Maqubela verteenwoordig nadat sy Marius Broeksma, die Legal Aid-prokureur wat haar tydens haar moordverhoor verteenwoordig het, afgedank het.

Bosman het ingestaan vir Kenny Oldwage, die verdedigingsprokureur wat die moordverdagte Oscar Pistorius volgende maand in die Pretoria-hooggeregshof gaan verteenwoordig. Bosman het ook in ʼn verklaring gesê dat Maqubela genoeg fondse het om al die regskostes te betaal en dat die Legal Aid-prokureur se dienste nie meer benodig word nie.

Cobus Esterhuizen, Legal Aid se hoof, het in ʼn aparte verklaring gesê hulle respekteer Maqubela se besluit en dat sy weer van hul dienste gebruik kan maak, as sy in die toekoms wou.

Die hof het Maqubela in November skuldig bevind aan die moord op haar man in 2009 in sy huis in Seepunt, Kaapstad. Sy is ook skuldig bevind op ʼn aanklag dat sy haar man se testament vervals en bedrog gepleeg het, aangesien sy die boedel moontlik benadeel het. – SAPA

Lees ook:
Nuwe regspan vir Thandi Maqubela
Thandi Maqubela hoor oor borg
Regter se moordenaar hoor dalk van borgtog
Uitspraak ná regter se moord
Regter se moordverdagte-vrou val flou in hof
Regter se weduwee het glo gejok oor sy dood
Geld dalk motief vir regter se dood
Uitstel gevra oor beweerde testament-vervalsing

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.