Thatcher vandag ter ruste gelê

Barones Margaret Thatcher

Margaret Thatcher, die “Ystervrou” van Engeland wat verlede Maandag gesterf het, word vandag in Londen ter ruste gelê.

Die BBC berig die bekende Big Ben-horlosie gaan vandag stil wees tydens haar seremoniële begrafnisdiens. Dit was nog nooit ter ere van ‘n persoon stil sedert die begrafnis van Winston Churchill in 1965 nie.

Vername mense wat die seremonie gaan bywoon, strek van voormalige Amerikaanse presidente en Britse eerste ministers tot bekendes soos Jeremy Clarkson, ʼn aanbieder van die televisieprogram Top Gear. Koningin Elizabeth II en haar man, prins Philip, het reeds bevestig dat hulle die begrafnis gaan bywoon. Oud-president FW de Klerk is ook een van die gaste wat vir die seremonie genooi is.

Die diens word in die St. Paul Katedraal om 12:00 Suid-Afrikaanse tyd gehou. Sewehonderd soldate in seremoniële uniform sal deur die strate van Londen oor ‘n afstand van drie kilometer beweeg. Barones Thatcher se kis sal op ‘n kanonwa geneem word tot by die katedraal.

Maroela Media se korrespondent in Londen, Kobus Bezuidenhout, berig talle mense het reeds sedert vroegoggend by die St. Paul Katedraal begin saamdrom vir die seremonie.

“Daar is baie Britte wat protes wil aanteken teen dít waarvoor sy gestaan het. Sommige wil selfs plakkate druk wat sê “Thank God the b**ch is dead” om in die publiek rond te swaai. Mense word egter aangemoedig om eerder protes aan te teken deur hul rug op die lykswa te draai wanneer dit in die straat verbyry,” het Bezuidenhout gesê.

Intussen het die Britse polisie gesê hulle is op hoë gereedheid, veral ná Maandagaand se ontploffings by die Boston-marathon in Amerika. Vierduisend polisiebeamptes is ontplooi en paaie in die sentrale stadsgebied is afgesper in geval van enige gebeurlikheid. Die polisie sê hulle sal vreedsame betogings respekteer, maar sal mense in hegtenis neem indien enige protesoptrede tot misdaad oorgaan.

Thatcher (87) het verlede Maandag weens ʼn beroerte gesterf.

Lees ook:
Duisende na Thatcher se begrafnis genooi
Margaret Thatcher gaan soos Diana, koninklike moeder vereer word
Nuuskommentaar: Eras van Thatcher en Mandela
Margaret Thatcher, die Ystervrou, sterf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.