Thuli Madonsela deur Franse vereer

Prof. Thuli Madonsela (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Prof. Thuli Madonsela, bekleër van die Fakulteit Regsgeleerdheid se navorsingsleerstoel in sosiale geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch, is deur pres. Emmanuel Macron van Frankryk vereer in die klas Kavalier in die Franse Nasionale Orde van die Erelegioen.

Die Orde word beskou as die hoogste eerbewys in Frankryk en vier die prestasies van vooraanstaande individue, ongeag geslag, sosiale stand of nasionaliteit. Dit word in vyf klasse toegeken, naamlik Kavalier, Offisier, Kommandant, Hoofoffisier en Hoofkruis. Oudpres. Nelson Mandela was in 1994 ʼn ontvanger van die klas Hoofkruis, terwyl vorige ontvangers van die klas Kavalier onder meer Desmond Tutu en André P. Brink insluit.

In sy skrywe aan Madonsela het die Franse ambassadeur, Aurelien Lechevallier, gesê dat sy vereer word vir haar merkwaardige prestasies wat betref die oppergesag van die reg en die stryd teen korrupsie in Suid-Afrika.

Volgens Madonsela kan sy nie die regte woorde vind om die diepte van haar dankbaarheid aan die president en die inwoners van Frankryk vir hierdie ongelooflike eer te betuig nie.

“Soos in die geval van my vorige toekennings, doen ek my werk om waarde toe te voeg tot die mensdom uit liefde en waardering wat aan my bewys is in die navolging van my taak. Erkenning van hierdie omvang ontlok egter ʼn geweldige dankbaarheid by my soos wat dit my werk oor sosiale geregtigheid, die oppergesag van die reg en etiese regering belig. Ek glo dat dit kom vanuit ʼn plek van waardering vir ons onderlinge verbondenheid as die mensdom, ongeag hoe ons geskei word deur oseane en grense.”

Madonsela het bygevoeg dat sy die eerbewys namens die Openbare Beskermerspan, wat sewe jaar lank saam met haar gewerk het in die strewe na ʼn etiese en verantwoordbare regering, aanvaar.

“Ek aanvaar ook die toekenning namens my kollegas aan die Universiteit Stellenbosch wat saam met my baanbrekerswerk doen op die gebied van navorsing, beleidshervorming en burgerlike mobilisering oor sosiale geregtigheid – met die hoop om vordering te maak om armoede te beëindig en strukturele ongelykheid teen 2030 te verminder, in ooreenstemming met die wêreldwye volhoubare Ontwikkelingsdoelstellings (SDG’s). Ek aanvaar dit ook namens my Thuma-stigting-kollegas, wat meestal vrywilligers is wat hul tyd en middele gee om demokrasie vir almal te laat werk deur middel van demokrasie-leierskap en geletterdheid. ”

Die amptelike geleentheid om die insignia aan Madonsela oor te handig is uitgestel totdat die Covid-19-situasie verbeter het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Marisa W ·

Sjoe ja ek is bly – as sy ‘n politieke party stig stem ek net vir haar – sy is voorwaar ‘n aanwins

Fedup ·

One women who earned my respect a few years ago.
You are an amazing person.

marius ·

Sy verdien dit . Terselfde tyd verdien die mense van die land om te hoor hoeveel van die wat sy ontmasker het in die tronk sit .

Anti-Verkramp ·

Is daar iemand in die tronk wat sy ontmasker het? Dieselfde met die duisende kommissies van ondersoeke. Pragtig maar niemand ry aan die pen nie en dit kos die belastingbetaler miljoene. Ek wil liewers nie weet hoeveel die voorsittende beamptes en advokate hiervoor verdien nie, ek dink ek sal naar raak.

Cabytheron ·

Wel gedaan, Thuli Madonsela! Jy sal beslis my stem kry as jy ooit ‘n politieke party sou stig! Dankie vir wat jy vir ons land beteken.

Charmain ·

Welgedaan! Sy het haar pos as OB met waardigheid bekleë en vir niks en niemand terug gestaan in haar stryd om die waarheid te laat seëvier. Wens ons kon dieselfde sê van die huidige OB.

Daniel ·

Het al my respek vir haar verloor nadat sy die EFF geprys het.

Elsa ·

Ai, ek is so trots op haar. Hoekom kan SA nie ‘n vroulike president kry soos juis sy nie.

Mariana ·

Sy is ‘n merkwaardige vrou en verdien dit. Baie geluk Thuli.

Dries ·

Sy het goed gedoen maar ek bly versigtig vir haar. Sy is ook baie lief om die rassekaart te gebruik. Vra maar vir Zille

Janee ·

Sal ons haar dan nie verwelkom as president in hierdie verwelkte ou landjie nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.