Tien vas oor ontvoerings

Tien mense is in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n vrou en haar baba in Orange Farm, suid van Johannesburg, ontvoer het.

“Die vrou en haar 16 maandeoue baba is Vrydag deur haar man as vermis aangemeld,” het lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. “Die polisie is in kennis gestel en het na die vrou begin soek. Die verdagtes het aanvanklik vir die man gesê hulle is in Soweto, en dat hy die losprys in ‘n bankrekening moet deponeer.”

Die polisie het die vrou in ‘n huis in Driezik Five in Orange Farm opgespoor.

Volgens Mogale was daar 29 mense, 16 vroue en 13 mans, wat ook teen hulle wil in die huis aangehou is. Die meeste van dié persone was tussen 20 en 30 jaar oud.

Die vrou en haar kind, wat as vermis aangemeld is, is in die huis aangetref. “Die slagoffers was van Mosambiek en Zimbabwe afkomstig. Tien verdagtes, nege mans en ‘n vrou, is in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op twee minibustaxis.

“Die georganiseerdemisdaad-eenheid in Gauteng ondersoek ‘n saak van ontvoering en het nog nie die moontlikheid van mensehandel uitgesluit nie,” het Mogale bygevoeg. Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Vereeniging-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.