Tien vrygespreek na plaasaanval in die Vrystaat

ʼn Groep van tien mense wat daarvan beskuldig is dat hulle op 8 Junie 2009 die verlamde Nellie Jansen van Rensburg (53) en haar ma, Martha van den Berg, op hul plaas oorval en wreed aangerand het, is deur die Ficksburg streekhof vrygespreek.

Landdros Ollie Koekemoer het in sy uitspraak gesê die strafregstelsel het die slagoffers in die steek gelaat. Hy het uitgevaar teen die polisie wat by die ondersoek betrokke was en gesê daar was onvoldoende getuienis teen die beskuldigdes weens swak polisiewerk. Die tien mense, agt mans en twee vroue, is vrygespreek op twee aanklagte van poging tot moord en drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Elf mense het na bewering op 8 Junie 2006 Jansen van Rensburg en haar ma oorval en aangerand. Albei vroue se hande is vasgemaak en hulle is onder meer met pistole deur die gesig geslaan. Jansen van Rensburg is kort na die voorval in haar slaap dood. ʼn Nadoodse ondersoek het bepaal sy is aan natuurlike oorsake dood. Koekemoer het die polisie se ondersoek beskryf as oppervlakkig, onakkuraat en “traak-my-nie-agtig”.

Die beskuldigdes wat vrygespreek is, is Andriano Masinga (26), Mphosi Letsolo (56), Pascalina Lepelesana (33), Rorisang Makgetha (21), Tshoanelo Shasha (28), Thompson Kubheka (34), Emily Mahlwana (31), Mothibedi Letube (32) en Pule Motseabane (40). Die elfde persoon wat destyds aangekla is, is reeds dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.