Tiener by Kaapse hoërskool doodgeskiet

ʼn Tiener is Woensdagmiddag dood nadat hy by ʼn hoërskool in Kaapstad in die kop geskiet is.

Donald Grant, die Wes-Kaapse LUR van onderwys, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die 17-jarige seun van Hoërskool Spes Bona is omstreeks 08:00 by die skool in Athlone geskiet. “Die leerling, Enrico Martin, is na die Groote Schuur-hospitaal gehaas vir verdere behandeling,” het Grant gesê.

Grant het gesê Martin is vermoedelik deur ʼn persoon, wat nie ʼn leerling aan die skool is nie, geskiet. Die verdagte het glo wel ʼn skooluniform aangehad.

Kaptein FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het egter gesê Martin is deur drie mans aangeval en deur een geskiet. Die drie mans het sweetpakbaadjies van die skool gedra.

“Die omstandighede oor die voorval word nog ondersoek, en daar is nog nie ʼn motief vir die skietery vasgestel nie. Ons kan in die stadium nie spekuleer of die skietery met bendegeweld verband hou nie,” het Van Wyk gesê.

Die departement van onderwys het beraders ontbied wat skoolleerlinge en personeel bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.