Tiener drie keer verkrag – een keer by skool

Argieffoto

ʼn Tiener van Gauteng is Woensdag vir die derde keer in haar kort lewe in onverwante voorvalle verkrag.

Ilse Salzwedel, die skrywer en vryskutjoernalis, het Donderdag aan Maroela Media gesê die tiener, wie se naam nie genoem mag word nie omdat sy angsbevange is, is emosioneel stukkend. Haar woongebied word ook weerhou uit vrees vir haar veiligheid.

Salzwedel ken die tiener goed en sê die 17-jarige is vyf jaar gelede vir die eerste keer verkrag deur ʼn man by wie haar ma ʼn huis gehuur het. “Die man was al voorheen deur die hof skuldig bevind aan kindermoord en verkragting. Hy het uit aanhouding ontsnap en die tiener verkrag toe sy 13 was,” het Salzwedel gesê. Die man is ná die voorval in hegtenis geneem.

Twee jaar gelede, toe die meisie 15 was, het sy vermis geraak. Sy was vir twee weke weg, en haar ma het onverpoosd na haar bly soek. “Sy was by verskeie hospitale en lykshuise regoor Gauteng en die omliggende gebiede. Die polisie het haar later na die staatshospitaal in Witbank geneem, waar haar dogter in ʼn kritieke toestand in die intensiewesorgeenheid was. Die kind is vir twee weke lank deur ʼn bende aangehou en al om die beurt verkrag. Hulle het haar liggaam erg vermink, en onder meer haar borste gesny en glasbottels in haar geslagsdele ingedruk. Haar lewe het aan ʼn draadjie gehang,” het Salzwedel bygevoeg. Die tiener en haar vriendin is deur die bende in ʼn informele nedersetting in Witbank aangehou en gemartel. Haar vriendin het nie die voorval oorleef nie. Haar verminkte liggaam is gevind met haar oë uitgesny en glasstukke in haar geslagsdele gedruk.

Ilse Salzwedel

Na dié voorval was die meisie vir ʼn geruime tyd in die hospitaal en moes daarna berading ontvang. Sy het ook tydens die voorval MIV opgedoen en is sedert toe op antiretrovirale middels.

“Sy is onlangs vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer terug skool toe. Woensdagmiddag is sy by die skool, deur ʼn jongman wat nie daar skoolgaan nie, in die skool se badkamers verkrag,” het ʼn ontstoke Salzwedel gesê. Die man is gister na die voorval in hegtenis geneem. Hy is glo bekend in die gemeenskap as iemand wat dwelms gebruik en al verskeie meisies verkrag het.

“Die regering faal om sy inwoners te beskerm. Dit is nie net wit mense wat onder geweld deurloop nie, dis swart mense ook. President Zuma moet ophou om alles op apartheid blameer,” het sy bygevoeg.

Salzwedel Donderdag ʼn ope brief aan Zuma geskryf om hom van die tiener se noodlot in kennis te stel asook om hom te maan dat hy verantwoordelikheid vir sy land moet neem. Klik hier om haar brief te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marlene ·

Wragtag Zuma sal meen die meisie moes stort dan sou sy nie MIV opgedoen het nie. Verkragting maak nie saak wat jou velkleur is nie is geweldig traumaties. Ongelukkig wil dit vir my voorkom dat dit in sommige rasse se gene is, vir hulle is dit 2de natuur. Bring die doodstraf terug

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.