Tiener kritiek ná koshuisspeletjie skeefloop

Argieffoto

Andrew Searle, ʼn 14-jarige skoolseun van die Wes-Kaap, is in die hoësorgeenheid in die hospitaal nadat hy met ʼn skoen in ʼn sloop geslaan is.

Searle, ʼn leerling aan Hoërskool York in George, is al sedert Dinsdag in ʼn hospitaal in George, het The Cape Times Vrydag berig.

Volgens die seun se pa, Sean Serle, het ʼn groep seuns glo sy seun se koshuis betree terwyl hulle geslaap het. Die koshuisinwoners is aangeval en geslaan. Andrew is op sy been en teen sy kop geslaan. “Die kinders noem dit ʼn ‘raid’. Dit word glad nie deur die skool goedgekeur nie,” het Searle gesê.

Andrew het ʼn uur na die aanval erge hoofpyne gekry. Die koshuispa het met hom na ʼn nabygeleë hospitaal gejaag waar daar bevind is dat hy bloeding op die brein het. Die seun is onder verdowing geplaas en die bloed word gedreineer.

Bronagh Casey, woordvoerder van die LUR van onderwys, Donald Grant, het aan die koerant gesê ʼn koshuisspeletjie het handuit geruk en dat sommige kinders uit die koshuis geskors is, maar nie uit die skool nie. “Die voorval word deur die skool se beheerliggaam ondersoek en hulle sal die nodige stappe neem om teen die skuldiges op te tree,” het Casey gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.