Tieners pleeg glo selfmoord ná te veel huiswerk

Twee tieners van China het selfmoord gepleeg omdat hulle glo te veel huiswerk gehad het en dit nie voltooi het nie.

Leerlinge in China, wat bekend is vir sy mededingende onderwysstelsel, bring gemiddeld 8,6 ure ʼn dag in die klaskamer deur, waarna ‘n hele paar ure se huiswerk nog volg, het die plaaslike media Vrydag berig

Die China Daily berig ‘n 15-jarige seun van Nanjing, wat tydens drie openbare vakansiedae nie sy huiswerk gedoen het nie, het Donderdag omstreeks 11:00 van ‘n gebou na sy dood gespring.

‘n 13-jarige seun van dieselfde dorp het Donderdag om 04:00 opgestaan om huiswerk te voltooi, maar is twee ure later opgespoor waar hy homself gehang het.

Die koerant berig hy het in ʼn selfmoordbrief gesê hy is lief vir sy ouers, en hoop hulle kan lelies, wat sy gunsteling-blom is, op sy graf sit.

China het indrukwekkende vooruitgang gemaak deur onderwys oor die hele land te bied. Die Verenigde Nasies beraam dat 99% van die land se jeug geletterd is. Ouers kla egter oor die streng druk waaronder leerlinge verkeer as gevolg van baie toetse en die rigiede onderwysstyl.

“Uitslae is ‘n belangrike evaluasie vir ‘n student om toegang tot ‘n universiteit te kry,” het Xiong Bingqi, adjunk-direkteur van die 21st Century Education Research Institute in Beijing, aan die koerant gesê. “Dit is dus normaal vir onderwysers om baie huiswerk te gee.”

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.