Tieners wat kinders glo vermoor is “straatkinders”

Vyf van die ses tieners wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op drie kinders in Limpopo is glo haweloos.

“Een van die tieners is ʼn skolier en die ander vyf is glo straatkinders, maar die polisie ondersoek steeds of dit die waarheid is,” het brig. Hangwane Mulaudzi, woordvoerder van die polisie in Limpopo gesê.

Die tieners is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moorde op die broers Bafana Kekana (9), Hosea Richard Kekana (10), en hul 12-jarige niggie Johanna Kekana. Die ses verdagtes is tussen 12 en 14 jaar oud en staar drie aanklagte van moord en verkragting in die gesig.

Die slagoffers se liggame is op 18 Augustus in Mookgophong (Naboomspruit) opgespoor. Hulle is gestenig. Johanna is verkrag. Die drie het hul skooluniforms aangehad en hul hande en voete is met veters vasgebind.

Bloedbevlekte klippe wat onder ʼn kombers en boomtakkies weggesteek is, is naby die liggame opgespoor. Die kinders is laas op 15 Augustus lewendig gesien tydens ʼn betoging om aan te dring op meer onderwysers by hul skool, Laerskool Dikobo. Die kinders het by die Montadi Jeugsorgsentrum gewoon.

Die verdagtes het glo in dieselfde gebied gewoon.

Mulaudzi het gesê die kinders, wat in hegtenis geneem is, is na ʼn plek van veiligheid geneem terwyl die ondersoek voortduur. Hulle sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Mookgophong verskyn.

Mulaudzi sê plaaslike inwoners het met inligting na vore gekom. ʼn Beloning van R100 000 is vir bystand uitgereik. Hy sê die gemeenskap was geskok deur die nuus. Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.