Tiere hou mans al 5 dae in boom vasgekeer

Sumatraanse tier

Vyf Indonesiese mans wat glo op soek was na ‘n seldsame boomsoort en strikke in ‘n natuurpark gestel het om aan die lewe te bly, is al vyf dae lank deur tiere in ‘n boom vasgekeer.

Die tiere het die ses mans Donderdag aangeval toe ‘n baba-tiertjie in een van die strikke beland het wat die mans gestel het om bokke en herte te vang. Een man is dood en die ander vyf sit nou in die boom vasgekeer, berig die Indonesiese media. Die mans het glo plaaslike inwoners met hul selfone van hul dilemma in kennis gestel.

‘n Soekspan het die park glo Saterdag binnegegaan, maar dit kan glo nog twee of drie dae duur om die mans in die afgesonderde deel van die eiland Sumatra te bereik.

Die Sumatraanse tier word as uiters bedreig beskou, met waarskynlik minder as 500 oor, en hulle word steeds minder. Hulle is die enigste oorlewende subspesie van ‘n groep tiere wat eens op verskillende Indonesiese eilande voorgekom het, en hulle verskil geneties taamlik baie van die tiere wat op die vasteland voorkom. Die Sumatraanse tier is een van die kleinste subspesies van die tier, met die mannetjies wat tussen 100 en 140 kilogram, en die wyfies tussen 75 en 110 kilogram weeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.