Tifoon Haiyan: 10 000 mense dalk in een stad dood; 600 000 ontruim in Viëtnam

Tifoon Haiyan

Tifoon Haiyan Foto: npr.org

Meer as 600 000 mense is ontruim in afwagting van supertifoon Haiyan wat op pad is na Viëtnam, het owerhede Sondag gesê. Intussen word berig dat tot soveel as 10 000 mense in een enkele stad in die Filippyne dood is nadat reuse seegolwe huise, skole en lughawens weggespoel het. Mense is onder puin begrawe en lyke hang in bome.

Dominic Petilla, goewerneur van die provinsie Leyte, het Saterdag laatmiddag gesê daar was sowat 10 000 sterftes in dié provinsie, hoofsaaklik weens verdrinking en geboue wat ineengestort het. Tecson Lim, administrateur van die stad Tacloban het gesê die dodetal in dié stad kan tot soveel as 10 000 mense wees. Tacloban is die provinsiale hoofstad van Leyte met sy sowat 200 000 inwoners.

Altesaam 300 sterftes is reeds in Basey bevestig en 2 000 mense word steeds vermis.

Daar is steeds ander stede wat nog nie bereik kon word nie. Daar is tans geen elektrisiteitstoevoer of selfoonopvangs in dié stede nie.

Die tifoon het die Filippynse eilande Vrydag getref met stormsterkte winde van sowat 235 km/h.

Talle lyke hang aan boomtakke, oor geboue en lê op sypaadjies.

Sowat 5 100 mense is in November 1991 in die Filippyne dood toe tropiese storm Thelma die gebied getref het.

Sowat 6 000 buitelandse en plaaslike toeriste is gestrand op Boracay, een van die bekende toeriste-aantreklikhede.

Viëtnam tref tans voorbereidings vir die tifoon. Sowat 600 000 mense in die sentrale gebied is ontruim en nagenoeg 100 000 mense is ontruim in drie provinsies in die noordelike dele van die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.