Titanic-maaltyd

Leonardo diCaprio en Kate Winslet in ‘n toneel uit die 1997-rolprent, Titanic

Verskeie restaurante sal Saterdag die 100-jaar herdenking van die Titanic-ramp vier deur dieselfde 10-gang maaltyd te bedien wat eersteklas-passasiers dié aand op die luukse skip geniet het.

Die maaltyd vir agt mense by ʼn restaurant in Hong Kong (teen ongeveer R15 760 per persoon) sal ook ʼn seldsame bottel 1907 Heidsieck Monopole Gout Americain Champagne insluit. Dié wyn is die aand van 14 April 1912 bedien voordat die Titanic op sy nooiensvaart ʼn ysberg getref het. Luidens die Sunday Morning Post, is dié bottels wat die Hullett House-restaurant gaan bedien, in 1998 uit die skeepswrak herwin. Die restaurant sal die maaltyd vir die eerste keer Saterdag, presies 100 jaar ná die ramp, bedien. Kelners sal ook geklee wees in uniforms soortgelyk aan dié wat die personeel op die Titanic aangehad het, en sal die maaltyd op borde bedien word wat deur die Engelse porseleinmaker, William Brownfield & Sons, ontwerps is. William Brownfield & Sons het die breekgoed vir die luukse skip vervaardig. “Die idee is om die atmosfeer van die skip te skep,” het sjef Philippe Orrico aan die Post gesê. Die maaltyd sluit oesters in vodkasous, geposjeerde salm, gesoteerde hoender en skaap met pepermentsous bedien – alles volgens die oorspronklike Titanic-resepte, maar met minder room en botter, het Orrico gesê.

RMS Titanic het teen 23:40 op 14 April 1912, op pad na New York en vier dae nadat sy Southampton, Engeland, verlaat het, ʼn ysberg getref. Sy het teen 02:20 gesink. Van die 2 224 mense aan boord het 1 514 in die ramp omgekom.

Die Eersteklas-spyskaart
Soos bedien in die eersteklas-eetkamer van die RMS Titanic op 14 April 1912
Eerste gang
Hors D’Oeuvres
Oesters
Tweede gang
Consommé Olga
Garsroom
Derde gang
Geposjeerde salm met Mousselinsous en komkommers
Vierde gang
Filet Mignons Lili
Gesoteerde hoender, Lyonnaise
Kalebas Farci
Vyfde gang
Skaapvleis met pepermentsous
Geroosterde eend met appelsous
Beesvleislendeskyf
Chateau Aartappels
Groen ertjies
Geroomde wortels
Rys
Parmentier & jong aartappels
Sesde gang
Romaine-pons
Sewende gang
Geroosterde duif & Cress
Agtste gang
Koue aspersies vinaigrette
Negende gang
Ganslewerpatee
Seldery
Tiende gang
Waldorf-poeding
Perskes in Chartreuse-jellie
Sjokolade en vanilla roompoffers
Franse roomys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.