Tjoekie-foefie: Dít was Jack Parow se “iets groots”

Die kletsrymer Jack Parow se publisiteitsfoefie oor sy inhegtenisneming het nie almal die afgelope naweek by die Oppikoppi-musiekfees geflous nie.

Nico Lourens (22) van Pretoria wat die fees bygewoon het, het gesê hy het op Maroela Media gelees dit blyk alles ʼn publisiteitfoefie te wees en kon hy almal gerusstel.

Dit het verlede week Woensdag aan die lig gekom dat Zander Tyler, beter bekend as Jack Parow, vir rusverstoring by ʼn vakansieoord in hegtenis geneem is. Klik hier om meer te lees.

Ettienne Joubert (27) ook van Pretoria, het gesê hy het ook die nuus gehoor dat Parow se optrede uitgestel is, maar hy het hom nie veel daaraan gesteur nie. “Baie mense het dit geglo, maar ek het geweet iets is nie reg nie. Niemand van sy statuur sal vir so lank in die tronk wees weens ‘rusverstoring’ nie,” het hy aan Maroela Media gesê.

Volgens Joubert het hulle Saterdagoggend die vertoning bygewoon wat voor Jack Parow se geskeduleerde optrede plaasgevind het. “Ons het maar net gewag dat die volgende vertoning begin toe ons hoor daar is ʼn geskarrel by die verhoog en dat almal sê ʼn ‘groot verrassing’ gaan nou gebeur.” Hy sê dit het gevolg met polisie-sirenes wat oor die klankstelsel gespeel het, met ʼn video van Parow wat uit ʼn “tronksel” ontsnap en met behulp van ʼn “medepligtige” ʼn polisievoertuig “steel”, waarna hy uiteindelik net betyds by Oppikoppi se verhoog opdaag vir sy vertoning.

Eclipse Public Relations het ná die vertoning in ʼn persverklaring gesê die persoon wat Parow gered het, die einste “Captain Morgan” was.

“Feesgangers was baie teleurgesteld toe hulle gehoor het dat Parow vermoedelik deur die polisie aangehou is en sy vertoning gekanselleer moes word, na sommige mediaberigte dit bekend gemaak het. Maar Captain Morgan, met sy ‘Morganette’ as lokaas, het Parow uit die tronk gaan red,” het die publisiteitsfirma geskerts.

Captain Morgan het in die verklaring gesê: “Jack Parow is ʼn legende by die fees en ek moes hom by Oppikoppi uitkry. ʼn Kaptein laat immers nooit ʼn man agter nie.”

Die Captain Morgan-handelsmerk was een van vanjaar se hoofborge van die fees.

Lees ook:
Jack Parow se tjoekie-foefie
Jack Parow agter tralies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

chris ·

Dit was maar rerig ‘n bietjie lam gedoen. Die konsep was goed maar die uitboering was regtig lam. As ou Jack rerig onnesel genoeg was om ‘n polisie kar te steel kon hy dalk net die selle. En nie die fees gehaal het nie. Doen sulke goed meer. Lewens getrou. Dit sou dalk meer simpatie en reaksie ontlok het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.