Tlokwe nou terug na ANC

anc vlagDie ANC sal weer ‘n volstrekte meerderheid in die Tlokwe-munisipaiteit hê nadat dié party se kandidate al ses tussenverkiesings gewen het.

Die tussenverkiesings was die laaste ná die ANC se paleisrewolusie in hierdie munisipaliteit, wat die bewind twee keer kortstondig aan die DA besorg het. Die groot wenner was egter die wegblystem, behalwe in wyk 20 waar die ANC ‘n stewige aanslag van ‘n onafhanklike kandidaat moes afslaan. Die stempersentasie in hierdie klein wyk was 66,42%.

In veral wyk 4 in Potchefstroom het die DA die ANC laat noustrop trek, en die ANC het uiteindelik met 1 064 stemme teenoor die 1 022 van die DA die pyp gerook. Die onafhanklike kandidaat het 450 stemme getrek. Ook in wyk 13 het die DA redelik vertoon deur 561 stemme teenoor die ANC se 844 te trek, en die onafhanklike kandidaat se 373.

Die DA het nie in die ander wyke kandidate gestel nie, en behalwe vir wyk 20, het die ANC maklik met die onafhanklike kandidate afgereken.

Die UCDP het in vyf van die wyke kandidate gestel en onderskeidelik 1, 12, 5, 2 en 4 stemme in die wyke getrek. Die party sal stellig begin besin of sy eindfluitjie nie geblaas het nie.

Die ANC maak daarop aanspraak dat die party nou weer die situasie in die munisipaliteit genormaliseer het. Volgens die ANC is die munisipaliteit nou weer bevry.

Die lae stempersentasies laat egter vrae oor hoeveel steun partye soos Agang en die EFF, wat nie nou deelgeneem het nie, tydens die algemene verkiesing sal trek.

Die uitslae skep minstens vir die ANC ‘n gedeeltelike gerusstelling dat die huidige debakel rondom die kop van pres. Jacob Zuma selfs in ‘n area waar sterk faksies teenwoordig is, nie te veel afvalligheid veroorsaak nie.

Die DA het die ANC daarvan beskuldig dat die party die nalatenskap van oud-pres. Nelson vir die tussenverkiesings misbruik het. Die DA wys daarop dat tien voormalige ANC-raadslede hul politieke loopbane opgeoffer het om bedrog en korrupsie in die munisipaliteit aan die kaak te stel. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chivago ·

Ja nee, soos ‘n trop skape. Niks sal verander nie want sommige mense het nie vermoë om die groter prentjie te sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.