TLU-SA wil nie Zuma se neef ryk maak nie

Argieffoto

Die TLU-SA sal nie die Masimbambisane plattelandseontwikkelingsinisiatief, ʼn projek wat gedeeltelik deur die staat gefinansier word, ondersteun nie.

“Dit wil voorkom of die projek ʼn tweede Nkandla gaan wees en daar is kommer dat dit deur moontlike nepotisme bederf gaan word,” het Louis Meintjies, president van die TLU-SA, in ʼn verklaring gesê.

Die City Press het Sondag berig dat pres. Jacob Zuma se neef, Deebo Mzobe, aan die stuur van die projek sal wees. Volgens die berig is Zuma die voorsitter van die nie-regeringsorganisasie wat die projek beheer en Mzobe is die adjunk voorsitter.

Meintjes sê die projek beoog om ʼn miljoen hektaar grond te ontwikkel vir voedselproduksie, maar daar is geen aanduiding hoe die nagenoeg R900 miljoen bestee gaan word nie.

Daar is ook kommer oor die tekort aan inligting wat gebruik kan word om die projek se sukses te bepaal en dit lyk of die grond nie gereed gaan wees vir die somerplantseisoen nie.

Bennie van Zyl, algemene bestuurder van TLU-SA, het gesê die regering het georganiseerde landbou genader om by die projek betrokke te raak en te help om nuwe boere te mentor. “Maar hulle moet duidelik wees oor die reëls vir dié mentorskap,” het Van Zyl gesê. Hy sê daar moet deursigtigheid wees oor hoe belastingbetalers se geld bestee gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.