“Today, tomorrow, goodbye”

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag aangekondig dat hy ʼn reuse-veldtog gaan begin om die afleggings by Absa te stop.

Solidariteit sê die StopAbsa-veldtog se leuse gaan “Today, tomorrow, goodbye” wees in plaas van die gebruiklik “Today, tomorrow, together”. Die vakbond sê die veldtog gaan onder andere duisende protesboodskappe aan Marcus Agius, die voorsitter van Barclays in Engeland, insluit. Solidariteit gaan Facebook, Twitter en video’s op YouTube gebruik om openbare steun vir die veldtog te werf. Dit kom nadat nog Absa-werknemers glo verlede week herstruktureringsbriewe ontvang het. Volgens die vakbond word talle werknemers se dienste op 31 Maart 2012 beëindig terwyl nog werknemers se dienste op 13 Mei 2012 beëindig sal word. “Ons inligting is dat Absa opdrag van Barclays gekry het om personeelkoste met 10% te sny. Dit is vir ons duidelik dat Barclays se greep op Absa al hoe sterker word. Ons fokus gaan dus na Barclays verskuif. Ons keur dit nie goed dat ʼn winsgewende Suid-Afrikaanse bank se werknemers ʼn bank in Engeland subsidieer nie,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê. “Absa gaan uiters kundige personeel as gevolg van die huidige herstrukturering verloor. Ons is bekommerd dat hierdie strewe na korttermynwins die volhoubaarheid van die bank op die lang termyn sal benadeel,” het hy bygevoeg. “In die veldtog gaan ons veral protes aanteken teen die manier waarop die afleggings hanteer is. In ʼn YouTube-video wat later die week vrygestel gaan word, vertel werknemers hoe hulle hul persoonlike besittings in houers moes pak en voor hulle kollegas soos misdadigers uit die gebou begelei is. Medewerknemers het glo in trane uitgebars toe hulle uit die gebou begelei is. Hierdie styl van afleggings is vreemd in Suid-Afrika en ons kan nie toelaat dat ʼn buitelandse maatskappy ʼn vreemde en onaanvaarbare kultuur in Suid-Afrika vestig nie,” het Hermann gesê.

Die publiek kan protesbriewe oor die Absa-afleggings deur middel van die webblad, www.stopabsa.co.za, aan die voorsitter van Barclays stuur. ʼn Ander manier om protes aan te teken, is deur die woord ‘Absa’ na 34388 te SMS. ʼn SMS kos R2 en sal ook by die protesboodskappe getel word. Die veldtog kan ook op Twitter gevolg word by #stopabsa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.