“Today, Tomorrow, To court!” – Solidariteit

Die vakbond Solidariteit en Absa sal mekaar binnekort in die hooggeregshof sien. Absa het Solidariteit in kennis gestel het dat hulle beoog om regstappe in te stel om die webblad van Solidariteit se StopAbsa-veldtog, www.stopabsa.co.za, toe te maak. Die vakbond het die StopAbsa-veldtog vroeër die week van stapel gestuur in reaksie op die bank se omstrede herstruktureringsproses wat reeds tot talle afleggings gelei het.

Luidens ʼn skrywe wat Solidariteit van Absa se prokureur, Adams&Adams in Pretoria, ontvang het, gaan Absa ʼn dringende aansoek om ʼn hofinterdik voor die hooggeregshof bring om die StopAbsa-webblad deur die hof toe te maak en om die vakbond te dwing om die gebruik van ʼn wysiging van die Absa-klinkreël, “Today, Tomorrow, Together”, op die webblad, te staak. Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, oorweeg die vakbond om die veldtog se klinkreël van “Today, Tomorrow, Goodbye” na “Today, Tomorrow, To Court” te verander.

“Ons sien uit daarna om Absa in die hof te ontmoet om ons grondwetlike reg op vryheid van spraak en billike sosiale kommentaar te verdedig. Die StopAbsa-veldtog verteenwoordig die stem van duisende Suid-Afrikaners. In die afgelope 48 uur het die veldtog 369 774 volgelinge op Twitter gehad. Dit was die eerste keer dat ’n vakbondveldtog nommer een in Suid-Afrika ‘trend’. ’n Verdere 40 000 mense het die veldtog op Facebook gevolg. Ongeveer 1 500 mense het al protesboodskappe aan die voorsitter van Barclays in Engeland gestuur. Ons kan nie toelaat dat Absa gewone Suid-Afrikaners se stem in die hof stilmaak nie.

Ons glo daaraan om die reg op ʼn oop gesprek te beskerm en nie om ongemaklike instellings, soos ons webblad, te verban nie. Ons is heeltemal bereid om vir dié beginsel hof toe te gaan,” het Hermann gesê.

Suid-Afrikaners kan deur die webblad protesboodskappe aan Marcus Agius, die voorsitter van Barclays in Engeland, en Maria Ramos, die uitvoerende hoof van Absa, stuur. ʼn Video, waarin twee werknemers vertel hoe hulle eers afgelê en toe met ʼn boksie vol persoonlike besittings na buite vergesel is, terwyl kollegas in trane moes toekyk, is ook op dié webblad te sien. ʼn Ander manier om protes aan te teken, is deur die woord ‘Absa’ na 34388 te SMS. ʼn SMS kos R2 en sal ook by die protesboodskappe getel word. Die veldtog kan ook op Twitter by #stopabsa gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Conrad ·

Today, Tomorrow, Goodbye, dit is net wat ek gedoen het met my rekening by Absa voorheen Volkskas, My spaar rekening is gevries en ek kon met moeite die geld daaruit kry. Die betoog van Absa is dat die rekening gebruik kan word om geld mee te was. Hoe dit kan gebeur weet ek nie want ek het gebank by Absa voorheen Volkskas sederd 1965.
Conrad

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.