Toekomsberaad: ‘Ons gaan bly, maar ons gaan nie stilbly nie’

Solidariteit het Maandag sy volgende Toekomsberaad aangekondig. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Beweging bied op 10 Oktober sy tweede Toekomsberaad in Pretoria aan, waar kerndoelwitte en omvattende planne vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms bespreek sal word.

Ná ʼn baie suksesvolle eerste Toekomsberaad, wat in 2015 gehou is en sowat R3,5 miljard belê het in die bevordering van die Afrikaner-kultuurgemeenskap en Afrikaanse taalgemeenskap, het die Solidariteit Beweging nuwe doelwitte daargestel om teen 2030 te bereik.

Die vorige Toekomsberaad se planne het tot 2020 gestrek, met die volgende beraad wat nou vroeër as beplan gehou gaan word. “Ons het daarin geslaag om ons planne uit te presteer, maar die situasie in die land het ook verander. Die uitdagings het groter geword en daarom moet ons nou vinniger bymekaarkom, nuwe planne én groter planne maak,” het dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, Maandag op ʼn mediakonferensie in Centurion gesê. Die Beweging het ook sy vyfjaar-toekomsplanne na tien jaar verleng.

“Die kern van die saak is, ons mense is onseker en hulle wonder of daar nog ʼn toekoms [in Suid-Afrika] is. Die toekoms gebeur net as jy dit self bou. Ons wil mense uitnooi om in groot getalle te kom saamdink oor hoe ons ʼn toekoms gaan bou. Ons gaan bly, maar ons gaan nie stilbly nie,” het hy bygevoeg.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat die burgerregte-organisasie sy tema van selfdoen gaan bevorder. “[Dít] is ʼn beraad van hoop. Ons neem die toekoms in ons eie hande en ons raak nie neerslagtig oor dit wat die regering doen nie. Baie van die goed kan mense nie verander nie, maar ons fokus op dit wat ons self kan verander.”

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê dié organisasie sal ook van die geleentheid gebruik maak om taal- en kultuurhelde te eer. “Ons wil graag erkenning gee aan ons helde in ons gemeenskappe wat ongelooflik baie doen vir Afrikaans en vir ons kultuur en geskiedenis, daar waar hulle bly.”

Doelwitte al bereik

Tydens die nuuskonferensie het die verskillende instansies van die Beweging, waaronder AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die FAK, hulle onderskeidelike prestasies onder die Toekomsberaad se vorige raamwerk, wat 18 doelwitte omvat het, gedeel.

“Ons staan baie sterker as ooit tevore. By die vorige beraad was [privaat universiteit] Akademia in sy beginfase en nou het hy al meer as 1 000 studente. Ons gaan nou planne bekendmaak om ʼn splinternuwe kampus vir Akademia te bou met studiegeriewe vir 6 000 studente, asook ʼn koshuis met 2 000 beddens,” het Hermann gesê.

Verder gaan Solidariteit ook die nuwe R300 miljoen-planne vir sy tegniese opleidingskollege Sol-Tech bekendmaak.

Sedert 2015 het Solidariteit se Helpende Hand-beweging ook van een skenkingswinkel na 51 winkels gegroei, terwyl AfriForum se veiligheidstrukture oor die land tot 160 strukture gegroei het.

Die Toekomsberaad word by die Choose Life Kerk in Pretoria aangebied. Daar is beperkte plek en voorafbesprekings is noodsaaklik. Belangstellendes kan www.beweging.co.za/toekomsberaad/ besoek om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Eddie ·

Kan die beraad nie ook via die internet geskied nie ?? Kan daar nie nou al besprekingspunte vir bespreking en kommentaar geplaas word nie , dit kan dan net tydens die beraad verder uitgetrap word ?

Knapsekêrel ·

Ek het nie ‘n probleem met ‘n besigheidsberaad nie. Ons benodig ook ‘n politieke beraad. En asseblief, die VF+ is nie ‘ n opsie nie. Hulle is verstrengel in akademiese debatte en kom nie na vore met alternatiewe oplossings nie. Hand om die nek met ander partye in Kaapstad. Die res van ons moet net ons bekke hou en vir hulle stem. Ons het dit in die verlede gedoen en kyk waar is ons nou.

Neels ·

Alles is goed en wel, maar Afrikaners se toekoms moet ook op politieke vlak uitgeklaar word. Die VF+ is nie die antwoord nie met alle respek. Hulle kort charisma en kan Afrikaners na 25 jaar nog steeds nie verenig nie, waarskynlik weens te veel politieke bagasie. Solidariteit is nie ‘n politieke party nie, die bestuur is betaalde amptenare van ‘n private onderneming wat beslis nie demokraties verkies is nie. Solidariteit kan wel iets doen vir besigheid en kultuur, maar het nie die vermoë om met politieke oplossings vorendag te kom nie, want die leierskap is nie demokraties verkies om namens mense te praat nie. Sonder politieke oplossings sal besigheid en kultuur later ook ten gronde gaan.

Kerneels ·

Jyt die uitdaging mooi realisties opgesom, Neels. Kry nou ‘n oplossing.

Disselboom ·

Neels is reg en som die saak goed op. En om Kerneels te antwoord: sonder politieke mag en die politieke wil om dit te verkry, is die selfbou-pogings net ‘n halwe oplossing en onder voortdurende bedreiging. Solidariteit doen goeie dinge, maar dis net een deel van wat nodig is. Minder monumente en meer dapperheid en harde weerstand is nodig in parallel met die selfbou-skemas.

Fanie ·

Neels, die Afrikaner kort ‘n gemeenskaplike vyand. Dit sal ons mooi kan vereening. In 1948 het dit vir Malan gehelp.

Neels ·

Disselboom, dis presies hoe ek die saak beskou. Solidariteit is betrokke by een aspek. Of die VF+ die ander aspek wil of kan doen weet ek nie. Hulle word daagliks by politieke burokrasie ingesleep sonder om werklik aan alternatiewe oplossings te werk. Politieke oplossings sal dalk buite die parlement gedoen moet word.
Fanie, dinge sal dalk nog slegter moet gaan voordat ons rigting kry.

Staan saam ·

Neels, hoop om jou by die Beraad te sien. Kom asb na vore met daadwerklike oplossings en voorstelle. Moet asb nie op die kantlyn bly en kritiseer, maar nie deelneem nie. Mense soos jy se samewerking is nodig om die Afrikaner te verenig, i.p.v. verdeeltheid te saai. Sien uit na jou insette en oplossings.

Gert ·

Neels, hoop nie jy is een van diegene wat glo die DA is eerder die antwoord nie, hulle veg aktief saam met ANC teen Afrikaners. In die huidige situasie is die beste van die opsies om vir ‘n uitgesproke pro-Afrikaner party te stem wat dan in die parlement kan opstaan vir ons regte, en die VF+ is die enigste opsie.

Neels ·

Gert, nee, die DA is nie die antwoord nie.
Staan Saam, toegang is beperk. Dus sal min van ons daar wees. Ek sal ook maar op die kantlyn staan. Ek gee nie om nie, want dit is meer ‘n maatskappy jaar vergadering as ‘n politieke beraad wat die politieke pad moet uitstippel. Die politieke gesprek moet egter op ‘n ander vlak geskied. En hier is die VF+ ook besig om die plot te verloor. Ons het nuwe politieke leierskap nodig, veral jong mense.

Kerneels ·

Jis, daai is mooi “Ons gaan bly, maar nie stilbly nie!”

Dries ·

Dit is al wat ons blankes nog die heel tyd doen is stilbly dit is hoekom ons is in die gemors is

Kerneels ·

Dan is dit tyd dat jy jou mond oopmaak, Dries. “Bad things happen when good men do nothing”

sweis ·

Ons hoef nie saam te staan of saam te stem nie ,ons kan soos deur die geskiedenis reeds bewys nie saam staan nie maar ons kan afrikaanse organisasies soos Afriforum finansieel ondersteun asook die VF+ by die stembus te ondersteun en dan druk op hulle te plaas om die mandaat wat ons vir hulle gee na te kom.

Nederkaner ·

Al wanneer ons saam staan of eerder saam gestaan het is wanneer ons almal in dieselfde bootjie was.

Vryburger ·

Sweis, die dag wanneer die VF+ binne en buite die parlement begin veg vir die regte van minderhede om hul eie streke te regeer sal ek vir hulle stem. Tot nou toe is ek teleurgesteld in die party. Wat betref afstigting sweef hulle van een verkiesing na die volgende sonder behoorlike openlike vyf-jaarlikse introspeksie wat met die publiek gedeel word.

Fanie ·

Baie goeie idees. Ek hou van wat ek lees. Saudi Arabia het ook vir visie vir 2030. Dis baie goed. Maar ongelukkig gaan ons steeds en aanhoudend deur die regering van die dag gekarnuffel word. Hulle gaan ons aanhou boelie, met regstellende aksie en BEE punte vir ondernemings. Ek dink ons kort onafhanklikheid. Totale of gedeeltelike onafhanklikheid van die regering. Ons kort grond,manne. Meneer Herman, ons kort ‘n stukkie aarde. Sien uit na julle kommentaar.

Deon ·

Fanie, dit is die kruks van die saak. Tans is ons lastige bywoners wat nou in die agterplaas woon. Ons sal van nou af stadig verarm in ‘n 3de wêreld land totdat selfs Solidariteit sy deure sal moet sluit weens geld tekorte.

Kerneels ·

Da praat jy nou, Fanie! Ons is darem al so amper halfmiljoen volgens die laaste verkiesing. As ons ons kaarte mooi speel en hakke in kap, wie weet, dalk oortuig ons nog ‘n klomp wat ook so voel…..

Frik ·

Kerneels, ongelukkig is die VF+ maar laks om te veg vir afstigting. Selfs met 90 LPs sal hulle laks bly.

Fanie ·

Meneer Herman. Ons kort ons eie grond. Wanneer ons grond het het ons ‘n sê oor ons eie belange. Met grond kan ons immers ons identiteit pland en wortel skiet.

N Lourens Reitz ·

Jy is reg Fanie met die grond maar wie is mnr Herman wat jy na verwys. Dr. Dirk Hermann verdien die nodige respek en waardering vir die werk wat Soldarireit doen vir Afrikaners.

sweis ·

Dit het tyd geword vir Dr Groenewald om die onderhandelinge te begin vir ons eie landjie,Ramaposa sal moet aandag gee anders gaan die wêreld hom klassifiseer as n diktator.

Vryburger ·

Lourens, Solidariteit doen goeie werk, maar die here in beheer is nie politici nie. Dalk is hulle te ordentlik vir smerige politiek. Van hulle maak soms politieke foute, totaal onnodig. Ek twyfel of die VF+ die politieke antwoord is. Hulle verdwyn na elke verkiesing en het voeling verloor met die realiteite van die hedendaagse Afrikaner, in die stad en op die platteland. Dis een van die redes waarom hulle nie nou al 90% van die Afrikaners agter hulle het nie. Die lewe is darem te lekker in die parlement.

lewies ·

Om in sak en as te gaan sit omdat politieke beheer ons ontglip het is n verleentheid. Die Afrikaner het deur die geskiedenis nog altyd gewys dat verleenthede juis die “trikker” was om dit as geleenthede te sien, al is dit nou eers om uit die stof op te staan. Ons ken mos. die storie van die ossewa en die doringboompie langs die pad. . Ons is weer daar en die tweede kans wat ons gaan kry sal anders aangespak word, om ook ons vyande se koppe te swaai, sodat ons hierdie keer saam die toekoms kan ingaan. Ons leer mos uit ons blapse of hoe?

Knapsekêrel ·

Dirk Herman nooi mense uit om in groot getalle saam te dink, maar daar is beperkte plek. Seker net vir die elite.

kraai ·

Ons moet OPHOU om net STIL stil te bly. maak ons ons monde oop is dit ook nie reg nie. Schucks gee ons ook n kans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.