Toename in tronkverkragtings

tronkdeur-320x192Daar is ʼn toename van meer as 40% in die aantal tronkverkragtings en seksuele aanrandings van gevangenes die afgelope jaar, het Sibusiso Ndebele, minister van korrektiewe dienste gesê.

In ʼn geskrewe antwoord op ʼn parlementêre vraag het hy gesê 643 gevangenes het die afgelope drie jaar verkragting of seksuele aanranding aangemeld.

Die getal was 221 in 2010/11, 175 in 2011/12 en 247 in 2012/13. “Dit is 41% meer as die vorige jaar,” het Ndebele gesê.

Die Demokratiese Alliansie sê die jongste statistiek is ʼn “skokkende openbaring” van die voorvalle van seksuele geweld in die land se tronkstelsel. James Selfe, DA-LP, het Woensdag in ʼn verklaring gesê hy het in 2011 suksesvol aansoek gedoen om wetgewing te wysig sodat gevangenes se kwesbaarheid vir seksuele geweld en uitbuiting bepaal kan word. “Ek het vroeër vanjaar in die parlement vrae ingedien om te bepaal of die departement dié wysiging in werking gestel het, maar het tot dusver nog nie ʼn antwoord ontvang nie,” het Selfe gesê.

Selfe sê hy sal nou meer vrae indien om te bepaal hoeveel van die voorvalle, wat aangemeld word, inderdaad ondersoek word. “Gegewe die hoë vlakke van slagoffer-intimidasie en geforseerde stilswye, is dié statistiek moontlik ʼn onderskatting.”

Luidens die verslag van die Jali-kommissie van Ondersoek in 2006 was verkragting volop in Suid-Afrika se tronke.

“Ons hoop dat die jongste syfers die departement sal dwing om die kwessie ernstig te benader en uiteindelik tot aksie oor te haal,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.