Toename in veediefstal lei tot interprovinsiale forum

SheepSedert Junie vanjaar het veediefstal toegeneem en in en rondom Gauteng versprei.

Willie Clack, voorsitter Gautengse Veediefstalforum, het Maandag in ʼn verklaring gesê met die bekendstelling van die misdaadstatistiek op 17 September deur Ria Phiyega, die kommissaris van die polisie, is hierdie tendens bevestig met ʼn 5.6% toename in veediefstalsake in Gauteng.

“Dit het egter ook aan die lig gekom dat dié misdaad nie tot ʼn provinsie beperk is nie, maar ook oor provinsiale grense strek. Dit het al hoe meer ʼn tendens geraak dat vee gesteel word in die noordelike dele van die Vrystaat en dan na Gauteng vervoer word vir ekonomiese gewin,” het Clack gesê.

Hy het gesê die oorgrensmisdaad tussen Gauteng en Noord-Vrystaat het die veediefstalforums van albei die provinsies genoodsaak om met mekaar te kommunikeer. “Dit het vinnig duidelik geword daar ‘n gebrek is aan misdaadintelligensie en kommunikasie en dat die aangeleentheid dringend aangespreek moet word.”

Op 27 September is ʼn vergadering in Heilbron gehou tussen twee verskillende provinsies se veediefstalforums asook ander rolspelers wat ʼn direkte belang het by veediefstalvoorkoming.

“Die vergadering was dit eens dat die stigting van ‘n interprovinsiale veediefstalforum (IPVF) noodsaaklik is en dat daar daadwerklik aandag geskenk moet word aan gemeenskaplike veediefstalsake wat beide provinsies raak. Daar is besluit om ʼn  werkkomitee saam te stel wat ʼn  strategiese plan sal opstel om die IPVF te formuleer. Die IPVF sal onder meer daarop fokus om veediefstal te voorkom ten einde dit vir die rooivleisprodusent moontlik te maak om volhoubaar en ekonomies te produseer sonder die bedreiging van veediefstal.”

Die forum sal in die interim skakel soos nodig, maar daar is besluit dat daar elke twee maande vergader sal word om enige probleme aan te spreek.

Bron:  96.1fm Overvaalstereo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

Hier is nou een siekte wat niemand gaan gesond kry nie. Die besigheid kom al van “Sir Harry die Strandloper” se tyd af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.