Toeoog-afspraak met ‘n kaper

Donald Bernard McGee Jr. (19) van Florida in Amerika het glo ʼn meisie se motor gekaap nadat hulle ʼn eerste afspraak saam geniet het.

Nemeha Milien (21) sal dié aand seker nooit vergeet nie. Die aand het met goeie geselskap en ʼn lang stap deur ʼn park begin, en in ʼn kaping geëindig. Sy het ingestem om saam McGee uit te gaan nadat hy talle teksboodskappe aan haar gestuur het. Die twee het omstreeks 22:00 deur die Boynton Beach-park gestap toe hulle na ʼn nabygeleë kitskosrestaurant, Wendy’s, gegaan het om op McGee se broer te wag.

Die oomblik toe Milien dink McGee gaan haar soen, het hy egter ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en haar motor gesteel, berig die Florida Sun-Sentinel. “Ek het aan my handsak vasgeklou, maar hy het my met die vuurwapen gedreig en my handsak gegryp,” het sy gesê. “Hy het die vuurwapen op my gesig gerig.”

Polisiebeamptes het McGee op Interstate 95 vir ongeveer 12 km gejaag voordat hy beheer oor die voertuig verloor het. Hy word van gewapende kaping, roof met ʼn vuurwapen en die besit van marijuana aangekla.

Milien het gesê sy het geen planne om binnekort saam met iemand anders op ʼn afspraak uit te gaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.