Toeriste dood aangetref in hotelkamer

Kathmandu, Nepal

Kathmandu, Nepal

Twee Italianers is op Oukersaand dood aangetref in hul hotelkamer in Kathmandu, Nepal, het die polisie Donderdag gesê.

Die polisie het ‘n ondersoek gelas nadat hulle na ‘n hotelkamer ontbied is toe Luciano Trezza (53) en Rita Melorio (48) Dinsdag nie uit hul kamer gekom het nie. “Die kamer was van binne gesluit,” het Raj Joshi, ‘n polisiebeampte, aan AFP gesê. Volgens NepalUpclose moes die polisie deur ‘n venster inbreek nadat hulle nie die deur kon oopbreek nie.

“Die man het op die bed gelê en die vrou was met ‘n slaapsak bedek,” het Joshi gesê.

Die paartjie het op 11 Desember in Nepal aangekom en hulle het glo aan die hoteleienaar gesê hulle besoek die land elke jaar.

Nadoodse ondersoeke sal gedoen word om die oorsaak van hul afsterwe te bepaal, maar dit wil voorkom of die twee toeriste aan gasvergiftiging of versmoring gesterf het. Volgens Joshi was die kamer nie behoorlik geventileer nie en die vensters is met koerante en plastiek bedek. “Selfs die klein spasie onder die voordeur is met ou koerante bedek om die ysige koue uit te hou.”

NepalUpclose berig die polisie het drie gassilinders in die kamer aangetref en die hotelbestuurder het glo gesê die twee het soms kos gemaak in hul kamer. Die polisie het ook kombuisware in die kamer aangetref.

Twee toeriste van China is vroeër vandeesmaand in Nagarkot buite Kathmandu aan gasvergiftiging dood weens ‘n verwarmer wat nie reg gewerk het nie.

Meer as 500 000 toeriste lê jaarliks besoek af aan Nepal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.