Toeriste in wildtuin beseer na renoster, olifant storm

In twee aparte voorvalle die week in die Krugerwildtuin is ʼn vrou van Duitsland deur ʼn renosterkoei en ʼn man deur ʼn olifantkoei aangeval.

Die vrou van Duitsland het beserings aan haar enkels, ribbes en kneusplekke aan haar lyf opgedoen nadat ʼn witrenosterkoei met ʼn kalf eergister ʼn groep toeriste aangeval het naby die Wolhuter-kamp in die suide van die wildtuin. William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, sê die renosterkoei het op die toeriste afgestorm na verskeie pogings van die veldwagters om haar te verjaag. Die toeriste het agter ʼn klip probeer wegkruip waarna die koei gestorm het en die vrou omgestamp het. Die veldwagters het op die renosters geskiet en die koei is gekwes maar kon steeds daarin slaag om weg te kom. ʼn Dokter van Skukuza het die vrou op die toneel behandel waarna sy per helikopter na ʼn hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.

In nog ʼn voorval is ʼn man beseer naby die Berg-en-Dal-ruskamp nadat ‘n olifantkoei sy motor gestorm en omgekeer het. Mabasa sê die man het beserings aan sy knieë opgedoen terwyl hy uit die motor ontsnap het en hy is deur ʼn dokter in die wildtuin behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.