Tolvandale sal gestraf word

Regstappe sal gedoen word teen enigiemand wat eiendom beskadig tydens die geskeduleerde e-tolbetogings.

“Die regering doen ʼn beroep op betogers om wetsgehoorsaam op te tree wanneer hulle hul reg om te betoog uitoefen,” het Thabo Masebe, woordvoerder vir die regering, gesê.

Dumisani Dakile, provinsiale sekretaris van die vakbondfederasie Cosatu, het Woensdag gesê hulle sal tolhekke sloop indien die regering met die omstrede e-tolprojek sou voortgaan. “Ek dink as die regering nie wil luister nie, dan het die mense geen keuse as om die tolhekke te sloop nie,” het hy gesê.

Dakile het egter Donderdagoggend tydens ʼn gesprek met EWN gesê daar was ʼn misverstand. Hy het verduidelik dat hy bedoel het regeringsbeamptes wat huise ʼn paar weke gelede in Lenasia gestroop het, moet nou ook die tolhekke sloop. Die huise is na bewering onwettig gebou op grond wat vir regeringsbehuising bedoel was.

Die anti-tolbetogings sal Vrydag deur lede van Cosatu en die publiek in Johannesburg en Pretoria gehou word.

Volgens Vavi is die betoging wat vir Vrydag in Pretoria en Johannesburg teen e-tol beplan word, slegs ʼn voorsmakie van groter betogings indien dié omstrede projek voortgaan. “Die aksie Vrydag is maar die begin. Op 6 Desember gaan ons nie net ʼn optog hou nie, maar ons gaan die regering wys wat hulle in Maartmaand kan verwag indien die wet goedgekeur word en die implementering van e-tol op ons afgedwing word,” het hy gesê.

Regeringsbeamptes sê hulle sal die betogings fyn dophou.

Intussen moet die Pretoriase hooggeregshof nog uitspraak lewer oor die lot van e-tol. Die opposisie teen stedelike tol (Outa) wil hê die hof moet die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se besluit om sekere gedeeltes van Gauteng se snelweë as tolpaaie te verklaar, hersien en ter syde te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.