“Toorgeld” op strand opgespoor

Argieffoto

Vervalsde banknote wat glo in ‘n slenter gebruik word waar papier in geld “omgetower” word, is op ‘n strand in Oos-Londen opgespoor.

“’n Jong kind het Woensdag ‘n hoop fotostaat-note in R100-bondels by Leachesbaai opgespoor,” het kapt. Stephen Marais, woordvoerder van die polisie, gesê. “Daar was blanko papiere tussen die vervalsde note.”

Polisie is na die toneel ontbied. Volgens Marais is dit moontlik dat die ‘geld’ in ‘n slenter, genaamd “Swartdoller-slenter”, gebruik is. In die slenter nader kriminele mense, veral bejaardes, en belowe hulle dat as hulle hulle geld oorhandig, hulle dit kan vermeerder of selfs kan verdubbel.

“Hulle probeer dan die slagoffers oortuig deur blanko papiere, so groot soos geldnote, in ‘n boks te druk. Die krimineel voeg dan ‘n “spesiale chemikalieë” by die papier. Hulle maak die boksie toe, en wag dan ‘n halfuur vir die chemikalieë om te werk. Die krimineel haal dan regte note uit en plaas dit bo-op, voordat hulle die boksie weer aan die slagoffer wys. Die slagoffer is nou oortuig dag die blanko papier in egte note verander het,” het Marais verduidelik. “Sodra die slagoffer sy geld aan die kriminele oorbetaal het om glo meer chemikalië te gaan koop, sien die slagoffer nooit weer sy geld óf die krimineel nie.”

Volgens Marais het die polisie beslag gelê op die vervalsde note wat op die strand opgespoor is. Hy doen ‘n beroep op mense om nie ‘n slagoffer te word van dié slenter nie. “Daar is nie iets soos ‘n ‘word-gou-ryk-skema’ nie,” het Marais gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.