Top Afrikaanse sangers toon hul steun vir Pretoria by AfriForum-musiekfees

Steve Hofmeyr tydens 'n vorige fees. Foto: Reint Dykema

Steve Hofmeyr tydens ‘n vorige fees. Foto: Reint Dykema

Steve Hofmeyr, Liza Brönner en ander top Afrikaanse sangers gaan op Saterdag, 2 November van 07:00 tot 13:00 tydens AfriForum se jaarlikse musiekfees by die Voortrekkermonument in Pretoria hul steun vir die behoud van Pretoria se naam wys. Die musiekfees vind plaas in ’n tyd waar die Tshwane Metroraad opnuut pogings aanwend om Pretoria se naam te verander. AfriForum bied hierdie Afrikaanse musiekfees aan ter viering van Pretoria se 158ste verjaarsdag.

Toegang tot die fees is gratis en geen besprekings is nodig nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit belangrik dat soveel as moontlik mense hul steun vir Pretoria se naam kom toon. “As duisende mense opdaag en Pretoria se naam steun, sal dit ’n duidelike boodskap aan die minister van kuns en kultuur stuur dat Pretorianers nie geneë is met die Metroraad se jongste pogings om die naam te verander nie,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat geen toegangsfooie gevra word nie sodat soveel moontlik mense en veral gesinne die geleentheid kry om hul steun vir Pretoria se naam te kom toon. “Van die bekendste kunstenaars gaan vanjaar vroeg optree om te verseker dat die dag deurgaans propvol gesinsvermaak is,” het Kriel gesê. Kriel het die publiek genooi om opvoustoele en hul vriende en familie saam te bring en die dag te kom geniet.

Die volgende kunstenaars sal optree: Steve Hofmeyr, Liza Brönner, Adam Tas, Gerrie Pretorius, Pieter Smith, Saarkie, Die Tuindwergies, Jaco Labuschagne, Fredi Nest, Vaughan Gardiner, Ghapi, Beeskraal en Fanie Botha se boereorkes.

Albei hekke van die Voortrekkermonument (Eeufeesweg en Smutslaan) sal van 05:00 oop wees om verkeersopeenhopings te voorkom. Eet- en drinkgoed sal op die terrein te koop aangebied word. Geen eie alkohol sal toegelaat word nie. Vir enige navrae skakel AfriForum by 086 10 200 30 of besoek die webwerf by www.afriforum.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amy ·

Wie die duiwel is Saarkie? Is dit dalk Annie Malan? Noe geweet sy sing ook nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.