“Top-polisieman” weer in hof vir beweerde dronkbestuur

Bethuel Mondli Zuma

Bethuel Mondli Zuma

Lt.gen. Bethueli Mondli Zuma, die man wat vir ʼn paar uur lank Gauteng se provinsiale polisiekommissaris was, verskyn Vrydag weer in die Pietermaritzburg-landdroshof op verskeie aanklagte onder andere ʼn aanklag van dronkbestuur.

Zuma (46) is in September 2008 in Pietermaritzburg in hegtenis geneem vir beweerde dronkbestuur en omdat hy versuim het om by ʼn padblokkade stil te hou. Daar word ook beweer dat hy glo verkeersbeamptes verhoed het om monsters te neem om sy bloedalkholvlakke te toets, en dat hy homself vir twee ure lank in ʼn huis toegesluit het.

Hy staan ​​tereg op aanklagte van versuiming om te stop op bevel, dronkbestuur, poging om te ontsnap uit aanhouding, en dwarsboming van die gereg.

Tydens sy vorige verskyning op 13 September het Carin Bishop, ʼn verkeersbeampte, getuig dat Zuma versuim het om sy voertuig die betrokke aand in Pietermaritzburg te stop, ten spyte van die verkeersvoertuig se sirene en blou ligte wat aan was, en dat hy oor die voertuig se luidsprekers beveel is om af te trek.

Toe hy uiteindelik stilgehou het, het Zuma ʼn asemtoets ondergaan en die lesing was drie keer bó die wettige limiet, het Bishop getuig. Sy beweer toe beamptes probeer het om Zuma in hegtenis te neem, het hy losgebreek en oor ʼn 2m hoë heining gespring en weggehardloop.

Sergie Brimiah, Zuma se prokureur, gaan na verwagting Vrydag aanvoer dat Zuma nie ʼn asemtoets ondergaan het nie.

Riah Piyega, die nasionale polisiekommissaris, het Zuma op 31 Augustus as Gauteng se kommissaris aangestel, maar die aanstelling kort daarna onttrek toe sy oor die hangende sake teen hom ingelig is. Phiyega het gesê sy was nie bewus van die kriminele aanklagte teen Zuma nie en is streng gekritiseer omdat sy glo nie behoorlike agtergrondtoetse oor hom gedoen het, voor sy hom in dié prestige-pos aangestel het nie.

Zuma is nie verwant aan president Jacob Zuma nie.

Lees ook:
“Top-polisieman” verskyn vandag in hof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Naal de Koker ·

HOE kom hy met sy lyf oor ‘n 2 meter heining???? ek sou dit graag wou sien…!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.