TopTV-aansoek: “Pornografie lei tot verkragtings,” sê Hettie Brittz

Hettie Brittz

Hettie Brittz, hoof van Immergroen Ouerskap, ouer en verkragtingslagoffer, het vroeër die week die verhoor bygewoon waar TopTV aansoek gedoen het om drie porno-kanale te kan uitsaai. Sy het met Maroela Media hieroor gesels.

Volgens Brittz bepaal die uitsaaikode dat niks uitgesaai mag word wat vernederend is teenoor vroue, skadelik vir kinders of wat ʼn aanhitsing is tot geweld nie.

“In terme van die uitsaaiowerheid se bepaling dat vroue nie verneder mag word nie, haal TopTV een studie aan wat bewys dat verkragtingstatistiek in lande, waar pornografie vrylik beskikbaar is, afgeneem het. Die probleem is egter in Suid-Afrika dat ons net oor aanmeldingsyfers van verkragtings beskik,” verduidelik sy. Die probleem in Suid-Afrika, volgens Brittz, is ook omdat verkragtingslagoffers dikwels nie geglo word nie.

Volgens haar vind daar ʼn afstomping plaas wat ʼn groot rol speel in die aanmelding van verkragting of molestering. “Mense dink ‘dit is nie so erg nie’,” het sy gesê. “Die bewering word gemaak dat vroue deur pornografie sal sien dat dit ‘normale gedrag’ is, en nie vernederend is nie. Volgens die ondersteuners vir pornografie is dit slegs ʼn probleem wanneer daar ʼn botsing tussen die gebruiker en nie-gebruiker plaasvind,” voeg sy by. “Volgens statistiek kyk 50% van paartjies saam na pornografie. Die probleem is egter dat vrouens gedwing word, of gedwing voel, om pornografie saam te kyk.”

In terme van die uitsaaiowerheid se bepaling dat geen beeldmateriaal uitgesaai mag word wat skadelik is vir kinders nie, voer TopTV glo aan dat ʼn pinkode-stelsel implementeer sal word om seker te maak dat kinders nie ongemagtigde toegang tot die pornografie bekom nie. “Die probleem is egter dat selfs “goeie” ouers aan die slaap raak voor die televisie, en die kinders op só manier blootgestel kan wees aan die materiaal,” sê Brittz. “Nie alle huise het aparte televisiekamers nie, en in sommige huise dien die slaapkamer ook as ʼn televisiekamer. Teen slegs R99 per maand vir drie kanale is dit dus goedkoop genoeg dat ʼn groot deel van Suid-Afrikaners dit sal kan bekostig.”

TopTV beplan om die pornografie tussen 20:00 en 05:00 uit te saai. “Dit is egter net ʼn toetsperiode en kan later verleng word,” het Brittz gesê.

“Gebruikers sal ook die programme op ʼn videomasjien kan opneem, en kinders sal dus baie maklik ‘per ongeluk’ die materiaal kan sien. Sommige gebruikers, en veral skoolgaande kinders sal selfs die materiaal op hul selfone kan opneem en dit kan dan by skole versprei word,” voeg Brittz by. “Daar is geen veilige manier om te verhoed dat jou kind hieraan blootgestel gaan word nie.” Volgens Brittz dui statistiek verder daarop tot meer as 60% van verkragtings of molesterings op kinders deur vriende en familielede plaasvind – mense wat saam met die kind in dieselfde huis tuisgaan. “Dit is wel so dat pornografie vryelik op die internet beskikbaar is, maar dit is tog nog steeds moeiliker om dit op die internet in die hande te kry as ʼn televisie in die huis.”

“Selfs nog voor my verkragting het ek met verkragters in tronke gepraat, en talle van hulle het verduidelik hoe pornografie ʼn groot rol gespeel het in hul misdrywe,” sê Brittz.

“TopTV is ʼn sinkende maatskappy wat op hulle webwerf erken dat hierdie pornografie-plan gemaak is om die saak te beredder. ʼn Boikot is dus die geskikte aksie. Ons doen ʼn beroep op ingeskrewe gebruikers van TopTV om hul inskrywing te kanselleer en hulle in kennis te stel waarom jy jou inskrywing kanselleer,” het Brittz bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HELENA SEABORNE ·

as mense di gemors wil kyk kan hulle dvds gaan uitneem. kan ni dink hu mens jouself so wil besoedel om daarna te wil kyk ni. mens se oe en brein is ni asblikke ni.

Jenny Upshon ·

Ek is nie ‘n kenner nie en die volgende is net my beskeie mening.Mense vind gewoonlik vinnig redes om hulle besluite of dade te regverdig.Het iemand diep genoeg op die saak ingegaan om seker te maak dat die sogenaamde afname in verkragtings direk daarmee verband hou of was daar enige ander faktore wat ook daartoe aanleiding gegee, bygedra het of invloed gehad het.?Die “swart kryt” storie wat alle sigiaters ken kan aangehaal word.Ek het al oorsese dokumentere programme gesien waar die kenners sumier beweer dat pornografie ‘n rol speel in die kriminele dade gepleeg deur reeks moordenaars.Sigiaters wou probeer uitvind of daar enige tekens voor die tyd is wat kan aandui dat iemand ‘n reeks moordenaar gaan word om die tragedie voor die tyd te probeer verhoed.Dit was hul bevindings en ek verstaan daar is konsensus na aanleiding van onderhoude met die oortreders onder andere.Behalwe die aanhaling oor bandopnames wat genoem is is nog ‘n maklike nuwe metode beskikbaar (vir die wat dit aankoop) – die PVR waar programme direk opneem en gestoor kan word, sonder videoband.Ons moet ook besef enigiets waaraan jy voortdurend blootgestel word, word jou norm en word mettertyd aanvaar as reg – bv.’n ouer(en familie lede) wat enige skadelike,onwettige dwelms voor die kind gebruik,later saam gebruik, die kind stuur om dit te koop en die kind dan as volwasse die patroon herhaal.Daar is geen rede waarom die kind sou glo dat dit verkeerd is nie, al is dit onwettig – dit het sy norm geword deur gereelde blootstelling.Dit blyk dieselfde is van toepassing op kriminele aktiwiteit,mishandeling of enigies anders.Op die ou end kom dit neer op reg en verkeerd – watter een jy aan blootgestel word is wat jou norm word ongeag van wat die wet se alhoewel daar sommige is wat wette ag en daarvolgens besluite neem,(die meerderheid lyk dit, nie.)Waneer jy nie meer in beheer is waneer dit kom by waaraan jou kind blootgestel word nie omdat dit nou vrylik oral beskikbaar, wettiglik het jy nie meer nie/verloor jy invloed. Die morele vesel van ons land is klaar in fodde in so ek wonder hoe die effek van dit sal lyk as dit grootskaals slaag- as dit vir 1 goedgekeur word moet dit vir ander ook.Ouers dink dalk anders daaraan, maar almal moet onthou dat die jeug (iemand se kind) op die ou end die leiers word op alle gebiede.Kyk na die kinder soldate in Afrika en hoe ons statistieke as dit by jeug in die tronke kom tans klaar lyk?Daar is ook die kwessie van die hoe tiener swangerskap syfers (skoliere).Niemand beskik oor die gawe om die toekoms te lees nie, maar ons kan net ons logika gebruik en die kompleksiteit van ons land en hoe dinge tans lyk in gedagte hou.

Heinz Albrecht ·

So,

Karre veroorsaak ongelukke,
Penne maak spelfoute,
Kos maak vet en geweere skiet mense?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.