Tradisionele geneesheer se maandlange siekbrief geldig

ʼn Vrou wat afgedank is nadat sy vir ʼn maand lank deur ʼn tradisionele geneesheer afgeboek is omdat sy glo “erg deur haar voorvaders geteister was”, moet weer in haar pos aangestel word.

Drie regters van die arbeidsappèlhof het die beslissing gemaak en gesê die saak was “iets nuuts”, berig Beeld.

Johannah Mmelodi, wat agt jaar lank by die maatskappy Kievitskroon Country Estate gewerk het, het glo in haar spaartyd ʼn kursus bygewoon om ʼn tradisionele geneesheer te word. Nadat sy die kursus voltooi het, het sy haar werkgewers vir ʼn maand se onbetaalde verlof gevra, om nog ʼn kursus te voltooi om ʼn sangoma te word.

Haar werkgewers het die versoek van die hand gewys. Sy het egter steeds die kursus bygewoon nadat sy vir hulle ʼn siekbrief gegee het waarin ʼn tradisionele geneesheer haar vir ʼn maand lank afgeboek het. Die rede wat op die siekbrief aangedui is, was dat sy erg deur haar voorvaders geteister word.

Toe sy terugkeer werk toe is sy dissiplinêr verhoor en afgedank. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het daarna bevind Mmelodi se afdanking was onbillik en sy moet heraangestel word. Die werkgewer het appèl aangeteken waarop die appèlhof ook in Mmelodi se guns beslis het. Die hof het gesê Suid-Afrika is ‘n land met vele kulture en dat Westerse kulture nie Afrika-kulture kan domineer nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.