Transnet sê nagenoeg 10 duisend mense was betrokke by vandag se stormloop by sy kantore in Bloemfontein waarin nagenoeg 69 mense beseer is.
ʼn Woordvoerder van Transnet, Mboniso Sigonyela, sê die duisende werksoekers het na die staatsinstelling se kantore gestroom met die hoop om werk te kry wat in die plaaslike koerant geadverteer is. Hy sê 30 vakante poste is geadverteer en twee sale is gereël vir 30 minute assesserings. Sigonyela sê die skare het teen 8:00 onrustig geraak met van die mense wat oor die heining begin klim het. Hy sê dit het veiligheidswagte genoop om die hekke te sluit wat die stormloop tot gevolg gehad het. ʼn Woordvoerder van die departement van gesondheid in die Vrystaat sê 69 mense is beseer waarvan een kritiek.