Transnet wil asbes naby De Aar stort

Argieffoto

Planne van Transnet om asbes naby De Aar in die Noord-Kaap te stort, het inwoners warm onder die kraag.

Transnet moes die asbes van treinstasies verwyder om moontlike gesondheidsprobleme te voorkom, het die Volksblad Donderdag berig.

Die plan is om 520 000 ton se asbes in twee groewe te stort, en dit dan te seël. Inwoners voer egter aan dat dit ʼn impak op mense, vee, wilde diere en voëlspesies gaan hê.

Mike Asefovitz het aan die koerant gesê hulle volg alle wetlike aspekte noukeurig. Charel Marais, die voorsitter van die De Aar se inwonersvereniging, sê egter talle vrae is nog onbeantwoord gelaat. “Die gebied is skaars 300 meter van ʼn munisipale woongebied. Daar is nie tans huise nie, maar in die toekoms kan dit ʼn probleem wees,” het Marais gesê.

Marais het gesê daar is sterk winde in die gebied, en dat twee windkragstasies daar beplan word. “Hulle kan ons nie verseker dat vesels nie in die lug geblaas gaan word nie.”

Die inwoners is ook nie oortuig dat die membraan wat in die groewe gebruik gaan word, vir altyd gaan hou nie, en dat die asbes moontlik in die ondergrondse drinkwater kan beland.

Die inwoners het voorgestel dat die asbes in ou asbesmyne gestort word.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.