Treinongeluk: Drywer mag glo nie bestuur

Die foto is deur @MedixGauteng op Twitter gelaai.

Die drywer van die trein wat Donderdagoggend naby Pretoria agterin ʼn ander stilstaande trein vasgery het, het glo vroeër ʼn waarskuwing gekry vir die oortreding van veiligheidsstandaarde.

The Citizen berig dat die waarskuwing beteken dat die drywer nie verder mag bestuur het nie en ander pligte gekry het. Die bewering is gemaak deur die National Transport Movement nadat die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) beweer het dat die vakbond verantwoordelik was vir die onlangse voorvalle waar treine aan die brand gesteek is. “Die drywer moes gebruik word weens die stakings,” het Ephraim Mphahlele, president van NTM, aan die koerant gesê. “Ons glo dat die bedrywighede onder die staking ly en dat hulle op die laaste minuut besluit het om dié drywer te gebruik.” Mphahlele sê die drywer het vir die afgelope twee jaar nie treine bestuur nie. Minstens 200 mense is beseer nadat die trein Donderdagoggend op die spoor tussen Cor Delfos en Saulsville naby Pretoria agterin ʼn stilstaande trein vasgery het. Daar is aanvanklik gesê dat die oorsaak van die ongeluk waarskynlik weens kabeldiefstal was. Lawrence Venk, woordvoerder van Prasa, wou nie kommentaar lewer oor NTM se bewerings nie. “Ons kan nie oor die drywer van die trein kommentaar lewer nie, hangende die uitslag van ʼn ondersoek na die voorval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.