Trekker-fratsongeluk: “Ek weet my boetie was gelukkig toe hy gesterf het”

Elsa en Louis Matthews

Elsa en Louis Matthews

Louis Matthews, die 20-jarige plaaswerker wat Dinsdagoggend in ʼn trekkerongeluk op ʼn plaas naby Vanderbijlpark in Gauteng dood is, het voluit gelewe en hy het vir plaaswerk gelewe, het sy sussie, Elna Matthews, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het Dinsdag berig Matthews het gesterf nadat ʼn trekker op hom geval het.

Elna het verduidelik hoe die fratsongeluk gebeur het: “Louis het gras op die plaas se terrein gesny en moes daarna die bale skuif,” het sy gesê. “Hy het twee bale met die trekker opgelaai en dit geskuif. Hy het teruggegaan om die derde baal op te laai, maar toe hy die baal oplig, was die linkerwiel van die trekker op die rand van ‘n ou kuilvoergat. Die gewig was te swaar en die trekker het in die gat in getuimel en Louis het saam met die trekker ingeval. Hy was onder die linkeragterwiel vasgekeer.”

Sy sê ander werkers het gehardloop om nog ʼn trekker te gaan kry om die trekker bo van Louis af op te lig, maar dit was reeds te laat. Hy is op die toneel dood verklaar. Louis het ses jaar lank op die plaas gewerk.

Volgens Elna was haar boetie ʼn baie vrolike mens en entoesiasties oor die plaaslewe en sy werk. “Hy het altyd ʼn plan gehad as mense probleme gehad het. Hy was altyd positief en het nie toegelaat dat klein goedjies of selfs groot goed hom onder kry nie. Hy het altyd kop bo water gehou. Geld het hom ook nie gepla nie; hy sou altyd vir ander werkers op die plaas geld gegee het.”

Sy sê hy het elke dag geglimlag, maak nie saak of hy ‘n probleem gehad het nie. Hy was ook altyd daar vir sy vriende.

“My boetie het voluit gelewe en sy lewe was vir die plaas gewees, hy kon nie in die dorp aard nie, daarom weet ek my boetie was gelukkig toe hy dood is.”

Louis se begrafnisdiens vind Donderdag om 11:00 by die Nederduits Hervormde Kerk in Fochville plaas. Hy laat sy suster, ma Louanne, en pa Harry agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boerevolk ·

Dit is baie tragies wat gebeur het. Die ouderdomme wat genoem word laat my dink die boer het gebruik gemaak van kinderarbeid want Louis was dan 14 jaar toe hy begin werk het op die plaas. Ek dink die owerhede moet ondersoek instel dalk maak baie ander werkgewers gebruik van kinderarbeid.

louanne Matthews ·

Ek is Louis se ma en daar gaan geen ondersoek gedoen word ni enige iemand kan my kontak op 0837360178 en my seun rus invrede en los dit nou!!!!

Elna Matthews ·

Boerevolk,ek wens net mense soos julle kan eers feite agter mekaar ook kry voor julle wil owerhede toe wil hardloop en kyk vir kinderarbeid,julle weet nie waar deur my boetie is om te kom waar hy was nie hy het as n beeswagter begin en toe hy n werkskontrak kon teken toe het hy as n plaaswerker begin werk,So los asb die saak want dit het niks met julle uit te waai nie my broer rus nou in vrede in.

Sune van Heerden ·

Dagsê Garath

Die familie het versoek dat ons hierdie berig plaas, aangesien die inligting wat ons aanvanklik van die paramedici-span ontvang het nie 100% akkuraat was nie.

Groetnis
Suné van Heerden
nms Maroela Media

Justi ·

Dis so tragies dat n jong man sy lewe verloor het. Om dit te probeer verwerk vir sy familie en vriende gaan bitter moeilik wees.

Sterkte aan sy familie en vriende.

Jenny ·

Haai Boerevolk, gaan lees die berig weer, dan sal jy sien dat die seun dit geniet het wat hy gedoen het. Dalk sal dit goed wees as ons blanke kinders weer leer om van kleins af te help werk, dan sal baie van hulle nie die lui gatte wees wat hulle vandag is nie. Hulle sal dan weet wat is dit om vir hulle gesinne te sorg en nie hulle sorge met drank en dwelms te probeer versteek nie. Ons kinders van vandag is luiaards, ons ouer generasie het ons ouers gehelp met die daaglikse take en het geleer om te werk en nie op die straathoeke gaan staan en bedel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.