“Trekkers” goed op dreef

Die 'trekkers' pak Drakensberg

Die ‘trekkers’ pak Drakensberg

Die groep hedendaagse Voortrekkers wat 175 jaar ná die geskiedkundige Groot Trek met viertrekvoertuie in Piet Retief se spore volg, is goed op dreef en nou anderkant die Drakensberg.

“Dit was asof die stowwerige wind die trekgroep aangehelp het oor die berg. Na Oliviershoekpas was die ‘trekkers’ ‘n hele paar ure vroeër by hulle bestemming, Drakensville,” het dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers en uitvoerende hoof van die FAK, Woensdag gesê.

“Almal was baie dankbaar vir hierdie uitspan-geleentheid by die vakansieoord waar daar relatiewe luuksheid is ná die tentlewe van die afgelope tyd. Maar die wind het nie bedaar nie en die viertrek-voertuie met die 36 passasiers het vroegoggend op 23 September na Kerkenberg vertrek om ook daar ‘n monument op te rig.”

Dr. Langner het daar verduidelik hoe Kerkenberg sy naam gekry het; dat die plek en rotsformasies herinner aan ‘n kerk of katedraal, en die groep het dieselfde atmosfeer ervaar.

Die kaalvoet vrouemonument, wat bewe in die koue wind, is ‘n dramatiese uitbeelding deur Anton van Wouw as simbool van die vrouens wat verkies het om oor die Drakenberg terug te keer bo ‘n lewe onder die Britse kroon. Almal moes vasstaan om nie van die kranse afgewaai te word nie, en meeste van die groep se kaal voete het die boodskap van die verlede weer bevestig.

Die viertrek-tog het die uitdagings van daardie tyd terdeë beleef. Passasiers en bestuurders het ‘n idee kon vorm van die vermoëns van die Voortrekkers om veilig met waens, hulle vee en gesinne om hierdie roete suksesvol te voltooi.

Binne een dag was agttien waens veilig onder aan die voet en op dag twee die res van Retief se trek. Binne drie weke is meer as ‘n duisend waens die berg af!

“Selfs nou aan die einde van winter kan mens jou die wonderlike ervaring van die oorspronklike trekkers indink met wuiwende grasveld en weiding onder in die pragtige vallei; dit was werklik soos ‘n aankoms in die ‘beloofde land’,” het Langner bygevoeg.

Die groep het Moordspruit besoek en die gedenknaald vir die 185 kinders en 296 volwassenes wat vermoor is terwyl hulle niksvermoedend gewag het op die terugkeer van Retief en en sy manskappe. Langner het in sy Erfenisdag-boodskap die groep herinner hierdie monument was een van die eerstes wat teen geweld in ons land opgerig is.

Die moderne trekkers het as deel van Erfenisdag die monument by Blauuwkrantz opgedra aan almal in Suid Afrika wat weens geweld geraak word, en ook die monument, wat 75 jaar gelede opgerig is, herstel. Die gedenktrek het reeds vyf ander monumente by Klipbokkop, Piet Retief, bo-op die Winterberg, by die Vrouemonument en Kerkenberg opgerig.

Die volgende hoogtepunt vir die groep is ’n besoek aan die Bloedrivier-monument en die Geloftekerk in Pietermaritzburg.

Die groep se trek kom Vrydag tot ʼn einde. Volg hulle hier op Facebook, of op Twitter by #GrootTrek175. Hulle gesels ook daagliks op Radio Pretoria tussen 13:00 en 14:00 en sporadies op RSG.

Lees ook:
Video: ‘Trekkers’ volg in Piet Retief se voetspore

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

german ·

Sal dit nooit kan doen sonder weggooi doeke en mikrogolfoonde nie. Go Trekkers Go!

H J Bester ·

Die Voortrekkers, of’twel Afrikaners asook hul nageslag, het nooit verwytend verwys na die tiranie van die Britse Owerheid wat verantwoordelik was vir die wegtrek uit die Kaap om ‘n ander heenkome te gaan soek nie – verder is die Britse Owerheid ook min verwyt vir die ontberinge tydens die Anglo-Boereoorlog en die lewensverlies van duisendes. Die Afrikaners het egter altyd aspireer om op alle terrein suksesvol te wees – en het ook daarin geslaag.

Die anderskleuriges in Suid-Afrika daarenteen, kan, buiten dat hulle die regeerders van Suid-Afrika is, eenvoudig nie los- en wegkom van die sogenaamde nadele wat apartheid vir hulle meegebring het nie en, alhoewel hulle regstellende aksie en swart bemagting tot hulle voordeel het, hulle steeds nie beduidende vordering maak nie – inteendeel al hul mislukkings word nog steeds die blankes ten laste gelê. Het die Voortrekkers / Boere dit ooit tog maar so gerieflik gehad !!

Hierdie simboliese en moderne “Voortrekker-trek” onder leiding van dr Danie Langer van die Voortrekkers, stem mens tog optimisties afgesien van die beklemmende omstandighede wat die blankes tans in Suid-Afrika onder die Zuma-regering beleef. Dit laat mens tot die besef kom dat die ontberings van die Voortrekkers / Boere van ouds dalk veel groter was as wat ons vandag verduur. Verder spoor dit ons aan om nie handdoek in te gooi nie maar met groter despiraatheid vorentoe te beur en nes die Voortrekkers van ouds, met geloof en moed te werk aan ‘n voorspoediger toekoms in Suid-Afrika. Niks is nog verlore nie – daar nog steeds baie geleenthede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.