Tretchikoff se Chinese Girl word opgeveil

Tretchikoff se “Chinese Girl”

Vladimir Tretchikoff se skildery, Chinese Girl, waarvan talle afdrukke al gemaak is en maklik uitgeken word, sal na verwagting tussen R4.2 miljoen en R7.1 miljoen by ‘n kunsveiling in Londen haal.

Tretchikoff is ‘n Russiese emigrant wat in 1946 in Suid-Afrika kom woon het. Hy het die Chinese Girl in 1952 in Kaapstad geskilder. Sy model was Monika Sing-Lee (toe 17 jaar oud). Hy het Sing-Lee opgemerk terwyl sy by haar oom se wassery in Seepunt, Kaapstad, gewerk het.

Afdrukke van sy bekende werk is in Suid-Afrika, Brittanje, Europa en Amerika in die 1950s verkoop. ‘n Amerikaanse vrou van Chicago het die skildery direk by die skilder aangeskaf toe hy in die 1950s in Amerika getoer het. Die skildery het in die koper se familie gebly en word nou deur die vrou se kleindogter verkoop. Bonhams-afslaers sal die skildery eers in New York en dan in Johannesburg uitstal voordat dit verkoop word.

Die veiling word vir 20 Maart beplan.

Giles Peppiatt, direkteur van Suid-Afrikaanse kuns by Bonhams, het gesê die “groen-blou patina-effek van die gesig is ongelooflik en verhelder haar rooi lippe en donker hare”.

Die BBC het in sy huldeblyk aan Tretchikoff, wat in 2006 gesterf het, beweer dat Tretchikoff teen die einde van sy loopbaan sowat ‘n halfmiljoen afdrukke van die Chinese Girl wêreldwyd verkoop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae