Trifecta-eiendomsaak: Hof hoor oor betalings

Christo Scholtz (direkteur van Trifecta) (links), Yolanda Botha (ANC LP) (middel), John Block (provinsiale minsiter van finansies) (derde van regs) en Alvin Botes (minister van maatskaplike ontwikkeling (heel regs) Foto: Lizéll Muller, M&G

Christo Scholtz (direkteur van Trifecta) (links), Yolanda Botha (ANC LP) (middel), John Block (provinsiale minsiter van finansies) (derde van regs) en Alvin Botes (minister van maatskaplike ontwikkeling (heel regs) Foto: Lizéll Muller, M&G

Die Noord-Kaapse hooggeregshof het Vrydag getuienis aangehoor oor betalings van die Trifecta-eiendomsgroep aan drie bekende Noord-Kaapse politici.

Regter Mathebe Phatshoane hoor tans getuienis aan in die korrupsiesaak van Noord-Kaapse swaargewigte John Block, Alvn Botes, Yolanda Botha en Christo Scholtz, direkteur van Trifecta. Die beskuldigdes het onskuldig gepleit op alle aanklagte teen hulle of hul maatskappye.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voer aan die Trifecta-groep het ʼn aantal huurooreenkomste met die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Noord-Kaap aangegaan waartydens huurspasie vir te veel geld aangebied is.

Staatsgetuie Trevor White, ʼn forensiese ouditeur vir PWC, het getuig oor die besonderhede van opknappingswerk aan Yolanda Botha se huis in Kimberley. Die hof het gehoor dat sommige van die uitgawes by Botha se huis ingesluit is by opknappingswerk aan Trifecta-geboue in Kimberley. “Daar is twee stapels dokumente met soortgelyke inligting,” het White gesê.

White voer in sy getuienis aan dat meer as R262 000 tot voordeel van Botha aangewend is voordat ʼn leningsooreenkoms tussen haar en Scholtz onderteken is. “Die dokument is ná ʼn ondersoek deur die nasionale parlement bekom.”

White getuig dat daar geen aanduiding is dat Trifecta die geld wat vir Botha se huis se opknappingswerk aangewend is, as ʼn lening hanteer het nie. “Dit is nie as ʼn lening aangedui nie,” het White gesê. Hy het glo verwag om meer inskrywings oor uitgawes en inkomstes, soos tydens ʼn normale leningsrekening, te sien.

Botha het in haar pleitooreenkoms bevestig dat Trifecta sedert September 2009 opknappingswerk aan haar huis gedoen het.

Die hof het ook getuienis aangehoor oor ʼn trust, genaamd Jyba Trust, met begunstigdes uit Botha se gesin, wat ʼn aandeelhouer in Trifecta Investment Holdings geword het. White het getuig dat Scholtz ʼn 10%-aandeel, wat nagenoeg R6 miljoen werd is, vir R100 aan die Jyba Trust verkoop het.

Die hof het ook getuienis aangehoor oor ʼn betaling van meer as R228 000 aan Block se maatskappye, Chisane Investments, uit die Shosholosa Trust, een van die aandeelhouers in Trifecta Investment Holdings.

Block het tydens sy pleitverduideliking gesê die geld was ʼn wettige saketransaksie tussen twee sakemanne van die Noord-Kaap. Block het aan die hof gesê hy het in daardie stadium geen salaris danksy ʼn politieke posisie verdien nie en moes homself as ʼn sakeman aan die lewe hou.

White het oor nog ʼn betaling van R500 000 uit die Trifecta-groep aan Block getuig. Block het in sy pleitooreenkoms aangedui dat dit ʼn betaling was vir bystand wat gelewer is in die bestuur van saketransaksies.

White het ook getuig oor opknappingswerk aan Block se gastehuis in Upington wat ingesluit is by opknappingswerk aan die Oranje-hotelgebou. Dié gebou behoort aan Trifecta, en die maatskappy het later die gebou aan die departement van maatskaplike ontwikkeling uitverhuur. White voer aan daar was ʼn poging om tussen die koste van die gastehuis en die Oranje-gebou te onderskei, maar daar was, aldus White, egter geen eise teen Block in Trifecta se rekeningstate nie.

Block het erken dat opknappingswerk van meer as R340 000 aan sy gastehuis aangebring is met behulp van ʼn sakevriend, Sarel Breda, ʼn aandeelhouer in die Trifecta-groep voor sy afsterwe tydens ʼn vliegtuigongeluk in 2009. Block ontken egter enige onreëlmatighede in dié betalings.

White het ook getuig oor Trifecta-betalings aan Alvin Botes, wat glo as salarisbetalings aangedui is. Dié betalings is gedoen in die maande voordat hy as die provinsiale LUR van maatskaplike ontwikkeling aangestel is.

Die saak duur voort. -SAPA

Lees ook:
Trifecta-saak hervat
Noord-Kaapse huurtenders glo nooit geadverteer
Trifecta-saak in Noord-Kaap uitgestel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.