Trifecta-klagtes is “belaglik”

Christo Scholtz (direkteur van Trifecta) (links), Yolanda Botha (ANC LP) (middel), John Block (provinsiale minsiter van finansies) (derde van regs) en Alvin Botes (minister van maatskaplike ontwikkeling (heel regs) Foto: Lizéll Muller, M&G

Christo Scholtz (direkteur van Trifecta) (links), Yolanda Botha (ANC LP) (middel), John Block (provinsiale minsiter van finansies) (derde van regs) en Alvin Botes (minister van maatskaplike ontwikkeling (heel regs) Foto: Lizéll Muller, M&G

Die Noord-Kaapse hooggeregshof het Dinsdag gehoor dat die klagtes teen die Trifecta-groep en ander beskuldigdes “belaglik” is.

“Die enigste sonde was dat hulle die aanbeveling van ʼn huurooreenkoms aanvaar het wat reeds deur die regering se evaluasiekomitee aanvaar is,” het Jaap Cilliers, vir Trifecta-direkteur Christo Scholtz, gesê.

Regter Mathebe Phatshoane hoor tans getuienis aan in die bedrog- en korrupsiesaak teen Scholtz en die Noord-Kaapse ANC-swaargewigte John Block, Alvin Botes, Yolanda Botha.

Die staatsgetuie Trevor White, ʼn forensiese ouditeur van PWC, is tans onder kruisverhoor deur Cilliers. Die kwessie wat in die kruisverhoor aangespreek is, is wanverteenwoordiging teen Trifecta en Botha. Cilliers het gesê Trifecta en Botha het ʼn aanbeveling van twee regeringskomitees aanvaar om ʼn ooreenkoms tussen die twee entiteite vir kantoorhuurspasie te onderteken. “Ek het al klagstate en klagstate in my lewe gesien, maar hierdie een vat die koek,” het Cilliers gesê.

Cilliers wou by White weet wat sy kommer was oor die spesifieke huur, en dit wil voorkom of dit slegs oor die periode van die huurooreenkoms handel, wat nie by die staat se klagstaat ingesluit is nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voer aan dat die Trifecta-groep ʼn aantal huurooreenkomste met die Noord-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling aangegaan het waarin daar te veel vir huurkontrakte gevra is.

Die beskuldigdes het almal onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Die verdediging het White se bewerings in sy verslag, oor die tyd wat verloop het vandat die kontrak onderteken is totdat die ou Oranje Hotel-gebou in Upington uiteindelik beset is, in twyfel getrek. Cilliers sê die vertraging is veroorsaak weens Sassa se versoek om die kantoorspasie vir hul doeleindes te omskep. “Hulle wou die gebou pasmaak. Al die vloere moes oorgedoen word. Dit het tot die vertraging in die besetting van die gebou gelei.”

Die hof het vroeër ook gehoor dat sommige van die berekenings in die forensiese verslag moontlik op die verkeerde stel feite gebaseer is. Cilliers sê die moontlike benadeling van R24 miljoen in die verslag is foutief en die beskuldigde is verkeerdelik beskuldig. Die bewyse handel oor die moontlike benadeling van die staat in die kantoorspasie wat deur Trifecta aan die regering verhuur is. Die departement het die huurooreenkoms namens Sassa aangegaan. Sassa het later self sy eie huurooreenkoms met Trifecta aangegaan nadat die oorspronklike huurkontrak oorgedra is.

Die saak duur voort. -SAPA

Lees ook:
Trifecta-saak: Hof hoor oor betalings
Trifecta-saak hervat
Noord-Kaapse huurtenders glo nooit geadverteer
Trifecta-saak in Noord-Kaap uitgestel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.