Trifecta-saak in Noord-Kaap uitgestel

Argieffoto

Argieffoto

‘n Bedrogsaak van drie ANC-hoës in die Noord-Kaap en die Trifecta-groep is Maandag in die Noord-Kaapse hooggeregshof uitgestel.

John Block, leier van die ANC in die Noord-Kaap, Yolanda Botha en Alvin Botes, twee ANC-swaargewigte in die Noord-Kaap, en Christo Scholtz, direkteur van Trifecta, staar aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery in die gesig.

Mashudu Malabi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, het Maandag gesê die NVG is gereed om met die saak voort te gaan. Al die beskuldigdes, buiten Scholtz, was in die hof teenwoordig. Die verdediging het die hof vir uitstel gevra. Malabi sê die staat het ingestem en die saak sal gevolglik op 3 Februarie begin.

‘n Lasbrief vir Scholtz se inhegtenisneming is goedgekeur en sal tot Februarie volgende jaar teruggehou word.

Die NVG voer aan dat die Trifecta-groep ‘n aantal huurkontrakte met die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Noord-Kaap aangegaan het waar verhuring, of verhuring van kantoorspasie, buitensporig was. Die Trifecta-groep het, of sou, sowat R57 miljoen teen die einde van die huurkontrakte ontvang het.

Die NVG het vroeër gesê die saak is deel van die werk van die Anti-Korrupsie-taakspan wat in Julie 2010 deur die kabinet opgestel is om meer doeltreffend met groot korrupsiesake om te gaan.

Die Demokratiese Alliansie het Maandag buite die hoogeregshof betoog. Andrew Louw, leier van die DA in die Noord-Kaap, het gesê dit is jammer dat die saak verder uitgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.