Trilling het Bloemfonteiners op hol

Volgens die projekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Raad vir Geowetenskappe, Ian Saunders, het die trilling wat Bloemfonteiners gisteraand eerder na die sosiale netwerke as vlugsout laat gryp het, 3,8 op die Richterskaal gemeet.  Die episentrum was by Edenburg, sowat 60 kilometer suid van Bloemfontein, berig RSG.

Saunders sê aardbewings in die Suid-Vrystaat is raar, maar nie ongewoon nie.

Bloemfonteiners kry redelik gereeld “besoek” van aardtrillings. Die inwoners in die noorde van die stad voel dikwels van die gereelde ligte skuddings wat in Welkom plaasvind, terwyl inwoners in die suide van die stad weer “besoek ontvang” van trillings wat van die Luckhoff-omgewing af gegenereer word.

Inwoners aan die westekant van die stad voel dikwels beide tipe aardtrillings.

Met die bou van die Van der Kloofdam is die teenwoordigheid van aardtrillings in die omgewing in die bouwerk verreken.

Die trillings in die omgewing van Welkom is gewoonlik ook baie lig, maar op 8 Desember 1976 het ‘n skudding plaasgevind wat ook deeglik in Bloemfontein gevoel is. Die woonstelblok, Tempesthof, het ‘n rukkie na die aardbewing begin intuimel.

Ongelukkig is dit moeilik om die sterkte van aardbewings in Suid-Afrika met dié wat wêreldwyd deur die Amerikaanse USGS opgeteken is te vergelyk. Die USGS maak, soos ‘n groot deel van die wêreld, van die Momentmagnitudeskaal (M-skaal) gebruik, terwyl Suid-Afrika ‘n aangepaste Richterskaal gebruik. Die USGS dui op die wêreldkaart van die afgelope week alle aardbewings en trillings van M2,5 en sterker aan wat in die VSA (ingesluit Alaska en Hawaii) en omgewing gevoel is, maar vir die res van die wêreld slegs aardbewings van M4.5 en sterker. Die aardbewing by Edinburg wat dus ongeveer tien keer te lig om die kaart te haal. (‘n Aardbewing van M 5 is tien keer swakker as een van M 6).

Wêreldwyd was daar vanjaar heelwat minder aardbewings van M 7 of meer as die voorafgaande paar jaar. Vanjaar, met 7 maande agter die blad, was daar nog “net” ses, met die jongste die twee kragtige skuddings van M 8,6 en 8,2 op 11 April. Verlede jaar was dit 20, met die grote van M 9 by Japan. In 2010 was daar 22, met die sterkste een van M8,8 wat Chili getref het. Die groot nuusmaker was egter die een van  M 7 wat Haïti getref het.

Of daar nog grotes vir vanjaar voorlê of nie, die kanse is uiters skraal dat Suid-Afrika ‘n werklike grote sal beleef. Die kontinente beweeg weg van Suid-Afrika, terwyl die plekke wat gereeld groot aardbewings beleef op plekke is waar plate na mekaar toe, of langs mekaar verby beweeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.