Die Meksikaanse regering het federale troepe na die deelstaat Michoacan gestuur waar burgerlikes die stad Nueva Italia Sondag oorgeneem en die polisie ontwapen het.
Die opstandelinge beskuldig die regering daarvan dat hulle nie teen die dwelmhndelaars optree nie, veral die Knights Templar-kartel wat ‘n skrikbewind in die omgewing voer. Ander dorpe is ook ingeneem.
Die regering het ‘n beroep gedoen op die burgerlikes om die stryd gewonne te gee en by die polisie aan te sluit. Een van die leiers van die burgerlikes het egter gesê hulle sal slegs hieraan gehoor gee indien die owerheid die dwelmbase aankeer. “Die lewens van die burgerlikes en hul families is andersins nie ‘n duit werd nie,” het die burgerlike leier aan ANP gesê. “Die dwelmbase sal selfs sorg dat ons honde vermoor word.”
Die regering moes enkele maande gelede ook ingryp toe gewapende burgerlikes ‘n aanval op die dwelmkartel beplan het.