Troeteldiere ook slagoffers met huishoudelike geweld

(Foto: Unsplash)

Ongeveer 70% van vroue wat slagoffers van mishandeling was se mishandelaar het ook hul troeteldiere gedreig, seergemaak of selfs doodgemaak.

Die statistieke van die Nasionale Raad van die Dierebeskermingvereniging (NDBV) is ingesluit in ʼn voorlegging wat die National Shelter Movement of South Africa (NSMSA) en ses ander organisasies vir geslagsgebaseerde geweld aan die departement van justisie en korrektiewe dienste voorgelê het. Hierin beveel hulle aan dat dierebeskerming by die Wysigingswetsontwerp op Gesinsgeweld ingesluit moet word.

Joy Lange, bestuurder van St. Anne’s-vroueskuiling, sê dat troeteldiere dikwels as ʼn verlenging van mishandeling gebruik word.

“Navorsing uit die Verenigde State toon dat byna die helfte van mishandelde vroue eerder in die verhouding sal bly om die veiligheid van hul troeteldiere te verseker. Mishandelaars gebruik dan die troeteldiere as ʼn instrument om die vroue verder te terroriseer en seer te maak.”

“Troeteldiere wat misbruik word, kan slagoffers nie net fisiek beïnvloed nie, maar ook emosioneel,” sê sy.

Aangesien die finansiering van skuilings vir mishandelde vroue en hul kinders reeds onvoldoende is en diere nie daar gehuisves kan word nie, moet die regering in die saak betrek word, sê Lange.

“Die gebrek aan ʼn skuiling vir hierdie diere is nog ʼn rede waarom diereveiligheid in die wetsontwerp opgeneem moet word. Ons het die regering nodig om finansiering en sy verbintenis tot skuilings vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te verbeter, sodat vroue en hul diere gehelp kan word.

“Skuilings moet só ingerig word dat troeteldiere wat in gevaar is, ook gehuisves word om vroue gerus te stel. Dit sal die fisieke en emosionele herstelproses vergemaklik.”

Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die NDBV, sê vroue wat in gevaar is en nie hul troeteldiere wil agterlaat nie, kan hul plaaslike DBV nader.

“Die DBV sal die troeteldier huisves totdat ʼn permanente oplossing gevind kan word,” sê sy. “Die Dierebeskermingswet beskerm ook alle diere en as ʼn mishandelaar hierdie wet oortree, kan die DBV ʼn saak teen die oortreder aanhangig maak.”

Vir meer inligting oor skuilings vir mishandelde vroue en hul kinders, besoek www.nsmsa.org.za en vir kwessies oor diere gaan na www.nspca.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genis ·

Ek glo daar is sulke sielsikes… As jy uiters jaloers en besitlik is, moet asb nie in n verhouding in nie… Dis toksies, siek en absoluut afstootlik…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.