Trok met giftige chemikalie steeds soek

Kalium sianied

Die polisie is steeds op soek na ʼn vragmotor wat giftige kalium sianied vervoer. Die vragmotor is Saterdag in Midrand, Gauteng, gekaap.

Indien dié chemiese middel ingeasem word, kan dit tot die persoon se dood lei, het lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê.

Die vragmotor van Krome Metal Chemicals is Saterdag in Midrand gekaap en die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting om dadelik met hulle in verbinding te tree.

Die chemiese middel is giftig indien dit ingesluk word of selfs in aanraking kom met mens se vel. Dit kan vel- en oogirritasie en brandwonde veroorsaak. “Blootstelling aan die gas kan giftig en uiters irriterend wees,” het Mogale bygevoeg. Sy sê die chemiese middel val die sentrale senuweestelsel, oë, niere, lewer, longe, vel en hart aan. “Mediese simptome sluit irritasie van die oë en slymvlies en brandwonde in. Dit kan tot asemnood en iemand se dood lei.”

Die chemikalie word by myne gebruik om goud te ontgin. Kalium sianied is ‘n helder wit kleur, ruik soos amandel en is uiters giftig.

Mogale sê die ondersoek duur voort.

Lees ook:
Trok met ‘gevaarlike stowwe’ gekaap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melissa ·

Moet hulle nie meer versigtig wees met die vervoer van sulke chemiese middels nie?? Veral as dit so verskriklik giftig is nie?? Wie weet wat die boewe dit voor gaan gebruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.